Gedagte vir die dag: Onsekerhede

ramshoring_stiltetyd.jpg

Foto: charismanews.com

Lees 1 Timoteus 6:6-19

Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle … ’n goeie belegging … (1 Timoteus 17-19)

Daar word glo gesê daar is net twee dinge in die lewe wat jy nooit sal ontglip nie: die dood, en om belasting te betaal. Dit, sê die slimmes, is wis en seker. Die res is alles onderhandelbaar.

Gelowiges weet darem – dit is nou nadat hulle klaar geglimlag het oor soveel spitsvondigheid – dat daar ook God is, altyd Hy. En nou is daar mos dié noue verband tussen God en die ander twee “sekerhede”: Hy is die God van lewe en dood; Hy is ook die Gewer van alle goeie gawes, juis ook die geld en besittings waarop ons op die een of ander manier belasting betaal.

Dit is dus van groot belang vir ons lewe dat ons die sekerhede (veral die Een met die hoofletter) met die grootste erns bejeën. Juis omdat soveel onsekerhede ons elke dag in die gesig staar. Paulus sê immers aan die besittersklas, ons, rykdom is ’n vername onsekerheid waarop daar geen hoop gevestig kan word nie.

Hy sê ons moet ons eerder toelê op die Gewer se doel met sy gawes. Ons moet dit geniet en die genot daarvan vermenigvuldig. Gee weg! Deel uit! Dit is ’n ewigheidsbelegging.

Só sorg jy dat hierdie groot onsekerheid – jou geld – nuttig gebruik word. Juis ook om die twee kleinletter-sekerhede – dood en belasting – se tjank af te trap. En om die groot Sekerheid te laat glimlag, omdat sy kinders uiteindelik geleer het waaroor die lewe gaan.

Ek dank U, Here, vir my oorvloed. En vir u goeie raad oor beleggings.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.