Oproep tot ’n Christelike lewenswandel

(Foto: Brian Mann/Unsplash)

In die lig van riglyne en aanbevelings tydens die eeue lange tydperk waarna daar verwys word as die laaste dae wat uiteindelik uitloop op die heuglike dag van die wederkoms van Christus: Soos Hy beloof het om weer te kom op die dag waarvan net sy Vader kennis dra.

Vir elke mens is lewe op aarde die geleentheid om deur verlossing en vergifnis van sonde deur Christus, uit genade in ʼn kindverhouding met God die Vader te kan tree. Joh. 1:12: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees.”

Dit het egter ingrypende implikasies vir elke Christen-gelowige wat sy of haar lewenswandel betref. 1 Pet. 1:13-16: “Wees daarom verstandelik wakker en nugter en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan geskrywe: Wees heilig want, Ek is heilig.”

Om heilig voor die Here te leef, beteken nie om sondeloos te wees nie, maar dat ons in ons lewenswandel afgesonder sal wees om ’n stryd te voer teen dit wat in God se oë sonde is. Sonde bring skeiding tussen ons en God en daarom die dringende oproep om heilig te wees.

Dit is net te veel gevra om ʼn superheilige te wees, sou iemand kon sê. Daardie holier than thou-Christene. Nee, hoor wat sê Paulus uit sy ellende in Fil. 4:13. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Dit geld seer sekerlik ook om ons in staat te stel om ʼn heilige lewenswandel na te streef. Paulus skryf in Ef. 4:1 “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” En dan volg sy praktiese riglyne…

Ef. 4:2,3: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die gees tussen julle gesmee het, te handhaaf, deur in vrede met mekaar te lewe.” Dan gaan Paulus voort tot aan die einde van hoofstuk 6 en stippel ʼn heilige lewenswandel baie duidelik uit. Lees dit voortdurend biddend, bepeins dit en leef daarvolgens.

As Paulus in 1 Kor. 13 oor die liefde skryf, werp dit ook lig op die Christelike lewenswandel as dit gaan oor geduldigheid en vriendelikheid en die waarheid teenoor ander, maar dan lig hy ook uit waarteen gewaak moet word. Hy waarsku teen afgunstigheid, verwaandheid, grootpraterigheid, onwelvoeglikheid, liggeraaktheid en dat daar nie van die kwaad boekgehou moet word nie.

In sy brief aan die Galasiërs in hoofstuk 5 maan hy teen dinge wat ʼn heilige lewenswandel in die wiele ry en dan skryf hy oor die vrug van die Gees, wat ʼn voorwaarde is vir ʼn heilige lewenswandel. Hy verwys na die Christelike vryheid wat voortdurend in stryd is met die mens se sondige natuur.

Dit is elke Christen-gelowige se taak om hulle eerlik, ontvanklik te vergewis van die stryd tussen die Gees van God en die mens se sondige natuur. As dit nie ter harte geneem word nie, sal dit ʼn heilige lewenswandel onmoontlik maak. In hierdie stryd gee Paulus wyse raad: Gal. 5:16: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheer word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van die sondige natuur nie.” In hoofstuk 6 skryf hy verder oor riglyne vir ʼn heilige, aan God welgevallige lewenswandel.

Dis nie vir my om in die fynste besonderhede hieroor uit te wei nie. Ek kan dit nie beter doen as wat dit klinkklaar in die Woord uitgestippel word nie. Die moets en moenies word onomwonde uitgespel en dit word bloot ʼn geval van gehoorsaamheid aan die eise van die Woord. ʼn Heilige lewenswandel is God se wil en voorwaarde vir die hemelse erfenis wat vir elke Christen-gelowige wag. Hulle wat in Christus glo, sal lewe, al het hulle gesterwe.

Tóg kan ʼn mens buite Bybelse verband riglyne uitspel. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Suid-Afrika (NHKA) het Sondag 7 Julie 2019 hieroor gepraat en werp die kollig op hedendaagse handeling in alledaagse gevalle.

  • Wees die een wat konsekwent weier om van ander te skinder.
  • Wees die een wat altyd die waarheid praat, al gaan dit oor onbenullige sake.
  • Wees die een wat met deernis en geduld met ander omgaan.
  • Wees die een wat jou skuld (vir wat ook al) betaal.
  • Wees die een wat eerlik jou inkomste verklaar en jou belasting betaal.
  • Wees die een op kantoor wat weier om oneerlik te wees.
  • Wees die naaste wat optree soos ʼn naaste.
  • Wees die werknemer wat werk sonder om te kla.
  • Moenie een boodskap verkondig en ʼn ander uitleef nie.

Natuurlik is dit nie maklik nie! Paulus skryf in Efesiërs 4 tot 6 oor dié onderwerp op ʼn klinkklare wyse, maar omdat hy weet hoe moeilik dit is, praat hy in Ef. 6:10-18 van die Christen se wapenrusting wat hy moet aantrek ten einde in staat te wees om heilig, vir God afgesonder, te leef. En dan sê hy in vers 18: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.” Ja! Ons moet ook vir mekaar bid!

God verwag niks van ons waartoe Hy ons nie in staat kán en wil stel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.