Paasfees: Bybelstudie tydens afsondering

kruise_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ds. Hannes Grobler van die NG-gemeente Witbank-vallei skryf:

Terwyl ons in ’n afsonderingstydperk is, is ons ook in die lydenstyd van die kerkjaar. Dit is die ideale tyd vir jou en jou gesin om huisgodsdiens te hou. Hier is drie teksgedeeltes waaroor jy dié week kan nadink.

Mat 27:46 – Teen drieuur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, My God, waarom het U My verlaat?

Gal 3:13 – Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is.”

Gal 3:10 – Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.”

Die sleutel om die uitroep van Jesus aan die kruis te verstaan is in Gal 3:13.

Om ’n vervloekte te wees, is om verwyder van God te wees. Om nie meer in sy teenwoordigheid te mag wees nie. Dit is om afgesny te wees van die gawes van God. Aan die kruis was Jesus vervloek. Dit het gebeur omdat Hy daar die Jode as verbondsverbrekers verteenwoordig het. Hulle het onder die vloek gekom weens hul ongehoorsaamheid aan God. Jesus het daardie vloek op Homself geneem. As Lam van God, Sondedraer, was Hy afgesny van die teenwoordigheid van God.

Jesus het aan die kruis ervaar wat dit is om deur God verlaat te word. Hy het dit in ons plek ervaar. God het sy rug op Jesus gedraai en Hom afgesny van die seën van God, van die versorging van God, van genade en vrede.

God is te heilig om maar net te kyk na ongeregtigheid. God die Vader het sy rug op sy Seun gedraai. Hom vervloek tot die hel, terwyl Hy aan die kruis gehang het. Dit was die Seun se ” neergedaal ter helle.” Hier het die toorn van God teen Jesus gewoed. Sy uitroep was die uitroep van iemand wat deur God vervloek is. Vir ons. Het jy ’n idee watter prys vir jou betaal is?

Dink daaroor na aan wat Jesus vir jou gedoen het op Golgota. Dank die Lam van God, wat in jou plek God se vloek moes verduur.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here met my mens verstand is dit soveel om in te neem….ek staan verwonderd by die kruis dat U my God tot die uiterste gegaan het sodat ek vrygekoop kan word….Ewig Onbegryplik Wese

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.