Gedagte vir die dag: Paulus: Ek ag my gelukkig!

Kerk_ou-gebou_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy kan maar jou saak stel” (Handelinge 26:1).             

Gister het ons van Paulus aan die begin van sy bediening gelees. Vandag is hy aan die einde van sy loopbaan. Paulus sit al vir meer as twee jaar in die gevangenis in Sesarea. Nou, amper aan die einde van sy pad, word Paulus voor Festus, die Romeinse goewerneur, en die Joodse koning Agrippa gedaag. Die goewerneur en die koning het saam met die beeldskone Bernice die hofsaal binnegekom: “Praat gerus, Paulus. Stel jou saak.”

Toe Paulus begin praat, het die goewerneur regop gesit. Dit was nie ’n patetiese gevangene wat om genade pleit nie. Inteendeel, Paulus straal! Hy het net een ding op sy hart – en dit is Christus. Hy vertel hoe die Here hom naby Damaskus geroep het, hoe hy sy lewe daaraan gewy het om Jesus te verkondig. Maar toe Paulus oor die opstanding van Jesus praat, was dit vir die Romein een te veel: “Jy’s mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal!” Agrippa het hom met ’n grappie probeer loswikkel: “Jy dink jy kan my sommer bekeer? Ha-ha!”

Nóg die goewerneur nóg die koning het op dié dag tot geloof gekom. Maar deur die jare, op Paulus se lang sendingreise, het duisende wel gehoor en geglo. En toe Paulus op sy heel laaste tog na Rome vertrek het, was hy steeds die stralende getuie van Jesus. Dit kon nie anders nie, want vir Paulus het alles om die Here gedraai. Vir hom was die lewe Christus en die sterwe wins!

Wat sal jou antwoord wees as die volgende vraag aan die einde van jou lewe aan jóú gestel word: “Verklaar jouself. Gee rekenskap van jou lewe. Wat was vir jou die belangrikste van alles, wat het jou lewe gevul?”

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Ja, dit is tragies dat hulle nie wou luister nie. Herinner my aan Jesus wat die Vader gedank het vir eenvoudige mense wat wel die Boodskap aangeneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.