Gedagte vir die dag: Prioriteite

wolke_see_sonondergang_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Die armes het julle altyd by julle, maar Mý het julle nie altyd nie. (Johannes 12:8)

Daar was twee susters, Marta en Maria. Marta was ’n raakvatter. Haar hande was altyd besig. Wanneer die Here by hulle in hulle huis kom oorbly en eet het, was sy die een wat rondgeskarrel het om seker te maak die kos is gaar en die huis is skoon. Maria het aan die Meester se voete gesit en luister na wat Hy hulle geleer het.

Toe Lasarus siek raak, het die susters ’n boodskap na Jesus toe gestuur, maar hulle broer het gesterf voordat Jesus daar aangekom het. Toe Jesus al naby hulle huis was, op pad om vir Lasarus uit die dood op te wek, het Marta by die huis uitgehardloop om Hom te gaan ontmoet, maar Maria het in die huis gewag (Joh. 11:20).

Nadat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, het Hy later teruggekeer na die familie se huis. Maria het ’n fles met lekkerruikolie gebring en die Here se voete daarmee gesalf. Toe het sy sy voete met haar hare afgedroog. Judas Iskariot het gesê: “Here, sy kon sekerlik hierdie reukolie vir baie geld verkoop en die geld dan vir die armes gegee het?” Sy motief was glad nie suiwer nie. Jesus het geantwoord: “Los haar. Sy het dit gedoen om My vir my begrafnis voor te berei. Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie.”

Maria het by Jesus se voete gesit en dit was in daardie tyd die heel beste plek om te wees, want sy het geweet Hy sou nie meer lank by hulle wees nie. Is jy so besig met die Here se werk dat jy vergeet om tyd deur te bring by die Voorsiener van die werk?

Ek het dit al so dikwels sien gebeur: Sendelinge gaan uit na die sendingveld, skynbaar om vir God te werk, maar keer dan totaal neerslagtig terug. Sommige draai selfs hulle rug op God, volkome moedeloos weens die gebrek aan reaksie van die ongelowiges. Die motiewe waarom hulle sendelinge wou wees, was waarskynlik nie suiwer nie. Hulle het dit nie net vir Jesus gedoen nie. Hulle kon dit om baie ander redes gedoen het, maar nie vir God nie.

Wanneer ons vandag uitgaan in die wêreld, laat ons onthou: Wat ons doen, wat dit ook al is, kom ons doen dit vir Jesus uit die liefde wat ons vir Hom het.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.