Gedagte vir die dag: Rustig slaap

olielamp_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 3

Ek het gaan lê en slaap en weer wakker geword, want die Here het oor my waggehou. Ek is nie bang vir tienduisende mense wat my van alle kante bedreig nie. (Psalm 3:6-7)

Dawid het Psalm 3 geskryf terwyl hy van sy seun Absalom gevlug het. Ons lees daarvan in 2 Samuel 15-17. Bekommernis weer hou ons van ’n goeie nagrus. Angstigheid steel ons gemoedsrus en vrede. Spanning jaag ons bloeddruk op. Dit alles dra daartoe by dat ons sleg slaap.

Dis vir my wonderlik om te lees dat Dawid, selfs terwyl hy vir sy lewe moes vlug, rustig geslaap het. Dit was moontlik omdat hy tot die Here geroep het en God hom van sy heilige berg af geantwoord het (v. 5). Dawid weet dus God luister na sy hulpgeroep en sal daarop antwoord. Dit is vir ons ’n wonderlike voorbeeld van hoe ’n gebedsverhouding met die Here moet lyk.

Omdat Dawid in ’n gebedsverhouding staan met die Here, is hy rustig en weet hy dat God na hom luister. Hy kan rustig slaap, want hy weet dat God oor hom waghou.

Om in ’n gebedsverhouding te staan met die Here, beteken dat ek eerste vir myself bid. As ek in ’n daaglikse verhouding met God staan, sal dit nie voel of my gebede teen die dak vasslaan nie, want Hy is altyd daar. Ek is die eerste linie in my eie geestelike lewe. My verhouding met die Here word nie bepaal deur my gemoedstoestand nie. Ek moet met die Here kan praat in enige situasie, want ek het ’n goeie verhouding met Hom.

Wanneer ek so ’n verhouding met die Here het, verstaan ek dat ek my sorge en vreugdes vir Hom kan gee. Dan kan ek my kop in die aande neerlê en rustig slaap. Ek kan slaap, want die God van hemel en aarde weet van my. Ons het vandag met mekaar gepraat, want ons het ’n goeie verhouding. Hy weet van my, nie net as dit sleg gaan nie, maar ook as dit met my goed gaan.

Here, dankie dat ek in ’n gebedsverhouding met U kan staan. U ken my deur en deur. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stephanie ·

Dawid het n persoonlike verhouding met GOD gehad omdat hy die verbond van GOD verstaan en sy eie gemaak het. Ons het vandag n BETER verbond wat ons kan aangryp en ons eie maak. Verstaan die vebond, en dan kán jy n persoonlike vertrouensverhouding soos hierdie, met die EWIGE VADER en VREDEVORS hê. Seënwense

Rita Labuschagne ·

Om te weet my Here hoor my in alle omstandighede is so vertroostend! U ken my ,ek sondaar, vir wie U , Jesus, gesterf het!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.