Gedagte vir die dag: Sewe keer?

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21)

Vergifnis is nie ’n afgehandelde stuk besigheid nie. Ek kan nooit by die punt kom nie waar ek selfvoldaan verklaar: “Ek het jou vergewe en nou is ek klaar met jou.” Vergifnis is ’n manier van lewe. Om te vergewe, om te wíl vergewe, word deel van jou leefwyse. Só verduidelik Jesus dit vir Petrus op die vraag hoeveel keer hy sy naaste behoort te vergewe. Petrus het die bod hoog ingesit: Tot sewe maal? Maar Jesus se antwoord is verstommend: Nee, tot 70 maal sewe keer! Of sê dan maar liewer by telling verby. Wie sal dan tog immers tot daar nog boekhou?

Dit is natuurlik ons probleem, naamlik dat ons van sonde boekhou. Nie van ons eie sonde nie, maar van ander s’n. Hierdie keer kan die ander man nog met ’n halfhartige vergifnis wegstap, maar wee hom as dit weer gebeur. En met elke daad van vergifnis voel ons dat ons ’n medalje verdien. Die Here moet tog net nie vergeet om dit aan te teken nie. Hoe mistroostig is hierdie boekhouding van ander se skuld, en ons eie goedhartigheid tog nie. Hoe onvolledig is die vergifnis wat ons aanbied nie as ons heeltyd verwag om daarvoor vergoed te word!

Wanneer vergifnis ’n leefstyl word, neem die Christusgesindheid in my lewe al meer gestalte aan. Dit is nie ’n lamsakkige trap-maar-op-my-houding nie, maar eerder die neerslag van opofferende naasteliefde. Ek bereken nie elke keer wat ek moet prysgee nie, maar verreken maar net op ’n beskeie manier die onbetaalbare groot liefde wat God aan my bewys het.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae