Gedagte vir die dag: So groei jy geestelik

Hart_teken_sand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet julleself distansieer van alle slegte gedrag, van elke vorm van valsheid, van voorgee wat julle nie is nie, van jaloesie en alle kwaadpratery. (1 Petrus 2:1)

Geen ouer staan een keer per jaar voor hulle kinders met die opdrag: “Groei 3 cm in die volgende jaar, of daar’s moeilikheid” nie. Groei gebeur organies. Ons kan niemand verplig om te groei nie. Dit geld ook van ons geloofslewe. Ons kan nie groei afforseer nie, maar ons kan onsself in die regte situasies plaas wat groei bevorder. Ons kan die regte geestelike kos inneem. In 1 Petrus 2:1-3 moedig Petrus ons juis aan om na God te smag soos wat pasgebore babatjies na melk smag sodat ons reg kan groei. Die regte soort groei is om boosheid, jaloesie en kwaadpratery af te lê, maar ook om te groei in die regte kennis van God. Hierdie kennis hou verband met die wete dat God goed is. Groei in die Here is om weg te groei van selfsugtige en liefdelose gedrag na ’n groter hongerte vir God se teenwoordigheid. Groei is om toe te neem in ervaringskennis dat God goed is.

Jesus het in Markus 10:42-45 vir sy dissipels gesê dat hulle nie moet maak soos die magtiges rondom hulle wat graag wil baasspeel en altyd voor in die koor wil wees nie. Sukses wat jou wil laat wen ten alle koste is die dood in die pot. Dit stuit alle geestelike groei. Dit steel jou vreugde, en jou siel. Om te groei, moet jy bereid wees om soms minder belangrik te wees. God is lankal tevrede met jou omdat jy agter Jesus aanstap. Jou teenwoordigheid is vir Hom genoeg. Dit is nie jou aardse prestasies wat vir Hom punte tel nie, maar al die kere dat jy wegstap van daardie selfsugtige keuses om jou op selfsugtige maniere te laat geld. Glo dit en groei vreugdevol reg.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stand for change ·

Dit is waar en beslis iets om as ‘n doelstelling te hê vir 2019.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.