Gedagte vir die dag: Sy grootse werke

mense_vrolik_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, (Openbaring 5:9)

Een van my gunstelingliedjies wanneer ek God met my hele hart wil loof, is die bekende “O Heer my God”. Die woorde is wat my betref ’n raak beskrywing van al die dinge wat God doen en waarvoor ons Hom in dankbaarheid kan prys.

Hierdie woorde laat jou dink aan al God se werke – die son en maan, die aarde, sterre, wolke, en hoe Hy dit elke dag onderhou. Dán kan ons juig, want ons Redder en ons God is groot.

Wanneer ek dit sing – meestal in my kar of in die stort waar niemand die vals note kan hoor nie – kry dit ’n crescendo by dié gedeelte: “U maak ons deel van al u grootse werke …” Ja, dis net daar waar die passie en dankbaarheid soos basuingeklank uit my wil bars.

Kan jy dit dink: God maak ons deel van sy werk op aarde! Ek en jy word deel van sy Koninkryk omdat Hy dit so bewerkstellig. Al is ons dikwels onbeholpe en onbekwaam, al is ons twyfel soms groter as ons geloof en ons selfsugtigheid sterker as die wil om God se koninkryk te soek. En al versmoor ons dikwels in ondankbaarheid.

Hy kies steeds om ons deel te maak van sy groot, groot werk op aarde: die verlossing en vrymaking van mense wat gebroke is of vasgevang voel. En die transformasie van mense wat gedurig teen sonde moet baklei.

Hy stuur ons as ligbringers na ’n wêreld waar die duisternis met alle mag wil oorneem. Hy gebruik ons, kleipotte vol krake en na aan skerwe, om lig in ’n donker wêreld te maak. Om hoop te bring deur woorde wat van dankbaarheid getuig. Om vreugde te gee deur die dankbaarheid wat ons hart ingeneem het. Om goedheid en barmhartigheid te bewys wat insgelyks uit ’n dankbare hart voortkom.

Ja, my dankbaarheid maak my sóveel doeltreffender in God se werk. Openbaring 5:9 bevestig die evangelie dat die bloed van die Lam ons vir God gekoop het, uit elke stam en taal en volk en nasie. Sodat ons wat in Jesus glo God se koningskap op aarde mag vestig en sy liefdesverbond met sy mense kan uitleef.

En daarom kan ons onophoudelik juig oor God se groot werke, en jubel omdat Hy ons deel van sy Koninkryk op aarde maak én deel van sy ryk wat nog kom. Ja, juis daarom kan ons hartlik sing:

Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam:
Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

Here, dankie dat ook ék deel van u grootse werke mag wees.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Mense woorde is so ontoereikende…dit kan U Grootheid en Heiligheid nooit beskryf nie en tog het U so n duur prys vir ons betaal..dankie Here

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.