Toekoms van hoop wink vir jong Midde-Oosterse gelowige

Baher kon met behulp van Geopende Deure se plaaslike vennote ʼn skaapboerdery begin. (Foto: Geopende Deure)

Jong Christene in Egipte word uitgemergel deur genadelose vervolging weens hul geloof in God. Voortdurende diskriminasie, verwerping en vernedering lei daartoe dat die toekoms van die Kerk in dié Midde-Oosterse land bedreig word – met gelowige kinders wat op skool afgeknou word, meisies wat in die straat geteister word en uiters beperkte werksgeleenthede wat Christene dryf om gevaarlike werk met min betaling te aanvaar.

Voorvalle waar die skending van godsdiensvryheid plaasvind, vind veral in die landelike gemeenskappe in Bo-Egipte plaas. Die gebrek aan daadwerklike wetstoepassing en die onwilligheid van plaaslike owerhede om Christene te beskerm, maak hulle kwesbaar vir vyandigheid en aanvalle. Die bou van nuwe kerke word ook beperk. Maar ondanks dié struikelblokke is daar tog hoop op die horison vir hulle…

Gevaarlike werk by steengroef

Baher* (25), ʼn inwoner van ʼn brandarm dorp in Bo-Egipte, is een van talle jong gelowiges wat eerstehands moes ervaar hoe erg die verdrukking vir Christene is. Hy moes op 13-jarige ouderdom die skool verlaat om te gaan werk omdat sy gesin brandarm was en sy bejaarde ouers albei medies ongeskik was om te werk. Soos met so baie ander Christene, het diskriminasie meegebring dat hy gedwing is om ʼn gevaarlike werk by een van Bo-Egipte se kalksteengroewe te aanvaar.

Hy vertel: “Daar is geen wetlike beskerming vir werkers se regte nie en ook geen gesondheidsversekering nie. Die werkers moet masjinerie met gevaarlike lemme hanteer, wat ernstige liggaamlike beserings kan veroorsaak, en dit gebeur dikwels dat iemand ʼn ledemaat verloor. Verder is daar ook ʼn groot gevaar van elektriese skokke weens ontblote kragkabels, asook longskade en oogsiektes weens die stofdeeltjies.”

Lewensveranderende gebeure

Binne ʼn week nadat Baher by die steengroef begin werk het, is sy arm in ʼn aaklige ongeluk afgesny. “Ek het God blameer omdat ek niks verkeerd gedoen het nie en net my gesin wou help om finansieel kop bo water te hou. Die besef dat ek net een arm oor het en dus nou ʼn gestremde is, het my baie depressief gemaak. Ek het ook my inkomste verloor omdat ek nie meer die werk by die steengroef kon doen nie,” sê hy.

Later is Baher se broer ook tragies dood by die steengroef waar hulle gewerk het, nadat hy vermoedelik aan die klipsnymasjiene se stof verstik het. Baher, wat nou sy gesin se enigste broodwinner was, onthou met trane in sy oë: “Toe my broer dood is, was my hart uitmekaar geskeur en het ek alle hoop in die lewe verloor.”

Vervolging het Baher nie net van hoop beroof nie, maar ook sy geloof tot die uiterste beproef. Hy het ná sy ongeluk ander werk gesoek, maar is oral verwerp omdat hy ʼn Christen is. Boonop moes hy saam met sy eie trauma toekyk hoe die huise van Christen-gesinne in sy dorp geplunder en afgebrand word.

Baher sit by die kalksteengroef waar hy gewerk het voordat hy sy arm verloor het. (Foto: Geopende Deure)

Nuwe hoop vir die toekoms

Baher se toekoms het droewig gelyk, maar hy het nuwe hoop gekry toe sy pad met Geopende Deure se plaaslike vennote gekruis het. Danksy jou ondersteuning, het hy en honderde ander steengroefwerkers noodsaaklike hulp ontvang. ʼn Mikrolening het hom in staat gestel om ʼn skaapboerdery te begin en hy het ook vir ʼn dissipelskapprogram ingeskryf om sy geloof weer te herbou.

“Ek het God vir my gesin se trauma blameer, maar julle het my ondersteun en gehelp om my siening te verander, waarvoor ek baie dankbaar is. Danksy julle hulp het ek nou weer ʼn inkomste. Julle het my moraal opgehef en my verhouding met God herstel. In plaas van om God vir my swaarkry te blameer, aanbid en prys ek hom nou met oorgawe en gaan ek ook gereeld kerk toe. Ek het weer nuwe hoop vir die toekoms,” sê hy.

Ondersteuning aan Midde-Oosterse gelowiges

Geopende Deure werk deur plaaslike vennote in Egipte om die Kerk te ondersteun met geletterdheidsopleiding, onderwysondersteuning, voorspraak, mediese ondersteuning, asook jeug-, gesins- en vrouebedienings. In 2022 is 969 gelowiges met mikroprojekte ondersteun, waarvan 120 steengroefwerkers was. Altesaam 270 000 mense het al die dissipelskapprogram voltooi.

Vervolgde gelowiges soos Baher, wat in haglike omstandighede in die kalksteengroewe werk, het jou ondersteuning en gebede nou meer as ooit tevore nodig om in hul geloof bemoedig te word. Klik hier om met praktiese ondersteuning te help om die Kerk in die Midde-Ooste lewendig te hou.

*Naam verander en verteenwoordigende foto’s gebruik vir sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Ja, en ons kla met die witbrood onder die arm. Net omdat ons hok bietjie geskud word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.