ToekomsVenster: Al wat jy het, is die oomblik, nou

antieke_horlosie_2_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Kom nou… – Jesaja 1:18

Wat het jy vanoggend geëet? Hoe het dit geproe? Wat van gisteraand se ete, desnoods voor die TV?

Watter ontmoetings het gister plaasgevind en hoe het dit jou lewe geraak? Het jy jou ander helfte en die kinders vanoggend gegroet voor jy werk toe is, en kan jy iets daarvan herroep?

Het jy die verkeer rondom jou opgelet en watter indruk het dit by jou gelaat? Wat het die omroeper op die radio kwytgeraak en wat het jy daarvan gedink, óf was jou gedagtes by netnou se vergadering, gister se gesels, oormôre se afsprake en eergister se verleentheid?

Oral, maar nie in die hier en nou, die vlietende, verbygaande en kosbare oomblik, nie.

Tussen gister en more lê vandag. Die meeste van ons mis vandag. Ons haak vas by gister, bekommer ons oor môre en op dié wyse gaan die lewe by ons verby want al wat ons het, is nou, hier, die oomblik.

Haal diep asem. Luister eers, wat hoor jy? Niks meer as dit nie, neem net kennis.

Haal asem. Wat sien jy? Kyk rondom jou, al is die omgewing oorbekend. Wat sien jy vir die heel eerste keer?

Haal asem. Wat voel jy? Moet dit nie beredeneer en probeer verstaan nie. Gee net erkenning dat jy iets voel. Gee dit ʼn naam. Gespanne, opgewonde, neutraal, traak-my-nie-agtig, hartseer.

Haal asem. Waaraan dink jy? Net dit, wat gebeur in jou kop?

Neem net kennis van die hier en nou. Die oomblik. Goddelik, vlietend, amper verby, verby.

Môreoggend groet jy bewustelik. Jy ruik, omhels, vertoef ʼn oomblik, spreek waardering uit, seën, bid.

Jy proe jou roosterbrood, die tekstuur, die botter, die soutsmaak, die oomblik.

Jy neem ʼn sluk koffie, rol dit eers in jou mond voordat jy sluk, en proe dit asof vir die eerste keer.

Haal asem.

Al wat jy het, is die oomblik, nou.

Moet dit nie misloop nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.