ToekomsVenster: As julle glo

gebed-bybel-vrou-landerye

Foto: Allen Taylor/Unsplash.com

As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra. – Matteus 21:22

Dit klink na ʼn onbehoorlike belofte. Kan dit hoegenaamd wees dat so ’n ongekwalifiseerde belofte gegee kan word? Dit is hier waar so baie van ons kortkom.
Is dit so eenvoudig as net glo en wat ʼn mens vra in die gebed word gegee? Die antwoord daarop is ʼn klinkklare ja en nee.

Ja, want God staan self in vir die geloofwaardigheid van sy beloftes. Hy is nie ʼn leuenaar nie en doen wat Hy beloof om te doen. Geloof is die toetssteen. Op ander plekke word hierdie geloof van naderby beskryf.

As jy glo en nie in jou hart twyfel nie, kan jy selfs die berg beveel om homself in die see te werp. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Wie glo, word nie veroordeel nie, wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie geglo het nie.

Die galery van geloofshelde in Hebreërs maak dit duidelik dat geloof die gemeenskaplike was. Telkens begin dit teks met die aankondiging “Omdat hy geglo het, het hy…”.

Dít is die kwalifikasie van geloof. Wie glo handel. Wie glo kom aan die beweeg. Wie glo doen.

Jakobus is daaroor baie uitgesproke. “Jy sê jy glo, wys my.” Dit is hier waar so baie van ons kortkom.

Ons glo, maar is passief, eintlik twyfelend. Sê nou maar ek glo en word teleurgestel? Sê nou maar God daag nie op nie en ek staan beskaamd en bespot voor ander mense? Sê-nou-maar ʼn duisend keer oor…

Jakobus sê wie só glo, eintlik nie glo nie, en is soos die golwe van die see. Hy wys vermanend daarop dat so iemand nie moet dink dat hy iets van God sal kry nie.
Miskien is dit meer gepas om soos die dissipel te bid: “Ek glo Here, kom my ongeloof tegemoet.”

Volgende keer as jy vra, vra in die geloof. Anker jouself in God se onbetwisbare beloftes. Moenie toegee aan twyfel nie. Neem ʼn risiko en gaan met God op weg. Hy sal jou nie teleurstel nie.

“Indien ek versuim om elke oggend twee uur in gebed te spandeer, kry die duiwel die oorwinning deur die dag. Ek het so baie werk dat ek dit nie sal kan afhandel sonder om drie uur per dag in gebed te spandeer nie.” ~ Martin Luther

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.