ToekomsVenster: Betuig weer jou afhanklikheid van God

(Foto: Stephan Hauman)

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” – Matteus 5:3 (AFR83)

Die eerste van die saligsprekinge lees: Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

Selfstandigheid en onafhanklikheid is die saak waarna die meeste mense op soek is. Afhanklikheid verteenwoordig swakheid, broosheid, selfs verganklikheid. Finansiële onafhanklikheid is gesog. Ook op ander terreine streef ons daarna. Ons wil nie ander in die oë kyk nie. Dis ʼn verleentheid en vernederend, so dink ons. Derhalwe werp ons alles in die stryd om onafhanklik te wees en te bly.

Jesus krap paradigmas om. Hy sê afhanklikheid is gesog, afhanklikheid van God.

Presies hoe afhanklik is ons van God?

Net dwase mense besef nie hoe afhanklik hulle van God is nie.

Van die eerste asemteug af tot by die laaste, elke tree en asem is met die guns en komplimente van God.

Ons is diep afhanklik en besef dit wanneer ons na die kortstondigheid van die lewe kyk. Weet nie of jy in die onlangse verlede daarvan bewus geword het nie, maar mense sterf. Sommige sterf van natuurlike oorsake, maar baie sterf weens buitengewone omstandighede. Natuurrampe eis die lewens van talle mense. Slegte keuses wat mense maak, maak hulle en ander kwesbaar. Mense sterf sonder hulle toedoen, ʼn mens kan sê, heeltemal onskuldig. Dit gebeur. Die dood is ʼn onvermybare handlanger. Altyd koggelende daar.

Loof die Here dat juis omdat gelowiges hul afhanklikheid van die Here besef die dood nie vir hulle ʼn bedreiging inhou nie. Die angel van die dood, die sonde, is geneutraliseer. Die slang se bedreiging is kortgeknip. Die dood kan ʼn mens nie hou nie.

Miskien wil die Here ons herinner aan hoe afhanklik ons is. Die bedoeling is nie om ons daarmee te intimideer nie. Die Here herinner ons nie aan ons afhanklikheid op ʼn vermaaklike wyse nie. Inteendeel, ons afhanklikheid is ʼn uitnodiging tot intimiteit.

God rantsoeneer nie die lewensmiddele, fisies, emosioneel en geestelik net om ons ʼn punt te bewys nie. Inteendeel. Hy gee wat ons nodig het sonder om te verwyt. Hy gee omdat Hy goed is. Hy gee omdat Hy daardeur sy karakter aan ons bekend maak.

Betuig net weer jou afhanklikheid van God. Doen dit met dankbaarheid. Dis die beste posisie om in te wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.