ToekomsVenster: Bid en doen

(Foto: Juanita Badenhorst)

“Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid.” – Daniël 9:18 (AFR83)

Ek lees onlangs ʼn artikel wat die vraag vra waarom mense dit ongemaklik vind om aan protesaksies, soos dié waarin ons gewoond geraak het in Suid-Afrika, deel te neem.

Wanneer ek die optoggangers gadeslaan sien ek bitter min mense daar wat deel van “ons verwysingsraamwerk” vorm.

Of protesaksies inderdaad die gewenste uitwerking het, is ʼn saak wat ek nie hier wil debatteer nie.

Daar is ook ander vorme van protes. Die sosiale media, briewe na koerante, debatte wat gevoer word en ander vorme van interaksie waarvan ek oortuig is daar sommer baie plaasvind, is eweneens ʼn vorm van protes.

Ek wil vandag egter verwys na die sterkste protesaksie, die sterkste protesinstrument wat Christene het en jou uitnooi om met mening en oortuiging daarvan gebruik te maak. Ek verwys uiteraard na gebed.

Wanneer ʼn mens die Bybel lees, sien jy hoe die mense hulle harte voor God uitgestort het. Sonder vrees vir verwerping het hulle hul ongemak met die status quo verwoord en in afhanklikheid voor die troon van genade kom staan. Die Psalms is die een boek waar mense met stukkende harte met God oor hulle gebrokenheid praat en vra dat Hy namens hulle sal optree.

Ek is van die oortuiging dat die een en die ander nodig is en meriete het, maar as ʼn mens dan moet kies, kies vir ʼn lewe van intersessie en gebed.

Herinner jouself aan die talle beloftes wat daar in die Woord is en hoe dit betrekking het op jou lewe as individu, maar ook op die lewens van mense wat ʼn spasie met jou deel.

Wanneer ons egter van ons knieë af opstaan, is die gedagte tog dat ons op ʼn pro-aktiewe wyse sal bly meewerk sodat die dinge wat verkeerd is verander kan word.

Wie weet, volgende keer wanneer daar ʼn protesaksie, waarmee jy kan identifiseer, van stapel gestuur word, daag jy dalk ook op.

Suid-Afrika is ons gesamentlike verantwoordelikheid en tensy ons ons stem laat hoor, kan die land deur ons vingers glip.

Dit is hier waar die Koninkryk van God gestalte moet kry.

Dis harde werk.

Dis die werk van geloof en van gelowiges.

Derhalwe, bid en doen, doen en bid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

WILLEM ·

As Christin leer die Here ons om minder te praat en meer te doen. Ons lewenswyse moet getuig van ons geloof en so ‘n verskil te maak in ons omgewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.