ToekomsVenster: Die klip is weggerol, kyk, die graf is leeg

Foto ter illustrasie. (Foto: James Wood/Unsplash)

“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” – 1 Korintiërs 15:3-4

Ons dink hierdie week ietwat na oor die dood as ʼn onafwendbare werklikheid.

Ons kan dié datum nie skeduleer nie. Ons kan nie daarvoor voorberei, op so ʼn wyse voorberei dat alle fasette daarvan onder ons beheer is, nie.

Dalk is dit deel van die genade, omdat ons nie weet nie gaan ons en mag ons onsself nie daaroor verknies nie. Feit van die saak is dat ons saam dink oor hierdie werklikheid in vandag se lewe. Mag die lewe nie by ons verbygaan omdat ons elke dag in die skaduwee van ons eie sterflikheid leef nie.

Paulus begin in 1 Korintiërs 15 om die gedagtes dat Christus nie uit die dood opgestaan het nie nek om te draai. Sommige beweer dat die opstanding uit die dood ʼn verbeeldingsvlug is.

In die konteks waarbinne Paulus homself bevind was die gedagte van lewe na die dood in elk geval uiters naïef. Onder die Grieke, Romeine en selfs onder sommige van die godsdienstige elite, was die gedagte uiters aanvegbaar en hoogs onwaarskynlik.

Paulus maak dit duidelik dat daar nie van ʼn Evangelie sprake is as Christus steeds gevange is in die graf waar hy te ruste gelê is nie. As Jesus nie opgestaan het nie, het die geloof geen sin nie. As Hy soos alle mense magteloos staan voor die dood se kloue, het ons met ʼn besondere humanitêre daad te doen, Hy sterf vir ons, maar verder beteken dit niks en hou geen ware hoop in nie.

Lees gerus die eerste paar verse van 1 Korintiërs 15.

Die feitelike word onomwonde gestel: Christus het opgestaan en verskyn aan mense. Hy het ook aan Paulus as die sg. ontydig geborene verskyn en die werklikheid van die opstanding geloofwaardig gemaak.

Ons wat baie eeue na Christus leef, bely dat die Bybel, die Woord van God, die Waarheid is.

Ek is so dankbaar dat dit nie koue letters op papier is wat veronderstel is om my basis te wees nie.

Dit is inderdaad die getuienis van die Heilige Gees in my hart dat wat van Jesus gesê word en wat Hy van Homself sê, inderdaad die waarheid is.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Die Bybel is VERSEKER die Woord van God en beslis WAAR!!!! Wat ‘n wonderlike, wonderlike voorreg om Hom te kan ken!!!! Beste geskenk ooit!!!

Marous ·

Paulus die vervolger van Christene se ontmoeting met Jesus op die Damaskus pad en sy lewe daarna is bewys daarvan dat Hy waarlik opgestaan het .

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat U die insiatief geneem het vir my redding….tot in alle Ewigheid… Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.