ToekomsVenster: Die nuwe dag roep

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. – Jesaja 40:29-31

Daar is vir my persoonlik geen groter genade as ʼn nuwe dag nie

Dalk kan jy met my identifiseer daarin dat ek somtyds so ʼn wanordelike dag beleef dat ek nie kan wag om te gaan slaap nie. Ek is meer dikwels ook self aandadig aan die wanordelikheid.

Verskillende dinge kom by my op: as ek net beter voorberei was, as ek gewag het voordat ek reageer het, as ek liewer nie gegaan het nie, noem maar op.

Ai, daardie negatiewe, selfveroordeeld gedagtes is somtyds ondraaglik. Dit wil jou net nie los nie. Hoe harder jy probeer hoe harder kom die stem van afkeur, minderwaardigheid en mislukking.

Ek dink nie ek is daar ʼn uitsondering nie alhoewel my persoonlikheidstipe iets daarmee te doen het.

Nou ja, daar is altyd ʼn nuwe dag maar as my dag vroegoggend reeds deurmekaar loop, is die nag en gepaardgaande rus nog ver.

Dan is dit belangrik om ʼn paar dinge te onthou:

  • Ek is ʼn “work in progress”. God en die lewe is nie met my klaar nie.
  • My vlerkies het ook nog nie hul verskyning gemaak nie. Ek is nog op aarde waar volmaaktheid ons altyd sal ontwyk.
  • Ek is net ʼn mens, nie ʼn superwese nie, en ek is ook nie die antwoord op alle vrae en uitdagings of mentor vir almal nie.
  • Ek weet ook dat ek myself onder en tussen ander gebrokenes bevind.
  • As iemand kies om sleg van my te dink is dit hulle probleem. As ek moet jammer sê doen ek dit stylvol maar ek gaan nie die vloer met my laat vryf nie.
  • Ek herinner my dat ek na alles uit genade gered is en dat net mense wat weet dat dit hulle aan volmaaktheid ontbreek genade nodig het en omarm.

Die lewe, ook my mislukkings, is ʼn leerskool en as ek ten minste iets geleer het, was dit nie alles verniet nie. As ek halsstarrig voortgaan om my kop in ʼn bynes te steek kan ek niemand blameer nie.

Dit is bevrydend om nie die afkeurenswaardige en verdoemende leuens van die bose te glo nie.

Uiteindelik kan ek in vrede gaan slaap, die dag en sy gebeurlikhede agter my plaas, die Here dank dat sy liefde nooit ophou nie, my geliefde nag soen en goeie drome droom. Môre begin ons weer.

Dankie Here vir ʼn nuwe dag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Dankie vir hierdie nuwe dag Vader en dat U my hand vashou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.