ToekomsVenster: Die optrede van Johannes die Doper

blomme-en-lig-woud

Foto: Pierangelo bettoni/Unsplash.com

Lees Markus 1:1-7

Markus kondig die tema van sý weergawe van die Jesus gebeure so aan: “Die Evangelie van Jesus Christus, die Seun van God”.

Dit kán nie verkeerd interpreteer word nie. Dis duidelik Wie die inspirasie en inhoud van die verhaal vorm. Jesus, sý woorde, dade, lewe, voorbeeld, volmaakte menswees is die inhoud van die Goeie Nuus (Evangelie) boodskap. “In Hom was daar lewe en die lewe is dié lig vir die mense”. (Joh.1:4)

Markus se aankondiging herinner aan Petrus se belydenis later by Cecerea Fillipi. “U is die Christus, die Seun van die lewende God”. (Mark.8:24)

Hierdie belydenis vorm die onderbou van alles wat in Markus se Evangelie opgeteken is. Dit ís die Evangelie.

Markus verhaal hoedat die bediening van Jesus deur die vreemde Johannes aangekondig is.

Probeer vir ʼn oomblik ʼn ontmoeting met Johannes die Doper voorstel.

Ongekunstelde woestynbewoner.

Geen pretensie en voorgee.

Reguit en onbeskaamd.

Dat hy vreesloos was, word later demonstreer as hy nie huiwer om Herodus tot verantwoording te roep oor dié se egbreuk met sy broer se vrou nie. Dit het hom sy lewe gekos.

Daar is ʼn prys verbonde aan volgelingskap. Dis die prys van geen kompromie en soms reguit praat.

Bly jy eerder stil wanneer omstandighede jou roep om God se wil uit te basuin?

Massas stroom na Johannes waar hy mense oproep tot bekering en doop. Sien in jou gees hoedat mense aangegryp word deur die eenvoudige dog onverdunde oproep tot bekering. Sy optrede in die woestyn is ʼn metafoor van die geestelike bankrotskap van die mense. Later getuig Jesus “soos skape sonder ʼn herder”. (Markus 6:34)

Johannes die Doper se oproep dra effek. Dit verander harte. Die Jode het gedink ander mense het bekering nodig. Nou moet hulle hoor dat die oproep aan húlle adres gerig word.

Dink jy ook dat bekering vir ander mense bedoel is? Jesus se woorde “wie nie siek is nie het nie ʼn dokter nodig nie” het betrekking. (Mark 2:17)

Die geringste taak wat ʼn mens kon onderneem was om as slaaf iemand anders se skoene uit te trek. Die stofstrate van Palestina sou dit ʼn minder aangename taak maak.

Johannes getuig dat hy nie eers dit werd is om die Messias se skoene uit te trek nie. Hy is bo alles verhewe. Later sou Jesus egter sy dissipels se voete was.

Jesus Christus, die Seun van God.

Ken jy jou plek voor die Koning van Konings?

Gebed:

Here, ek buig voor U, koning van die Konings. Amen

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.