ToekomsVenster: Die vraag oor die opstanding uit die dood

Foto: OC Gonzalez/Unsplash.com

Toe kom daar Sadduseërs na Jesus toe. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ‘n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskrywe: ‘As iemand se broer sterwe en ‘n vrou agterlaat maar nie kinders het nie, moet hy met die weduwee van sy broer trou en ‘n nageslag vir sy broer verwek.’ Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en by sy sterwe geen kinders gehad nie. Die tweede het toe met die weduwee getrou, maar hy het ook gesterwe sonder om kinders agter te laat, en die derde net so. Nie een van die sewe het kinders by haar gehad nie. Heel laaste het die vrou toe ook gesterwe. Met die opstanding, wanneer hulle uit die dood opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie? Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ nie? Hy is nie ‘n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!” – Markus 12:18-27

Aan die dwaal omdat julle die Skrif nie ken nie, sê Jesus. Hosea sê die Godsvolk gaan verlore vanweë ʼn gebrek aan kennis.

“Dis alles reeds opgeskryf”, sê Jesus. Doen die moeite om dit na te vors en op verantwoordelike wyse te interpreteer.

Die Sadduseërs het met ʼn agenda na Jesus gekom. Hulle het as groep nie in die opstanding geglo nie. Nou kom hulle met ʼn bekookte spul en hoop dat hulle Jesus onkant gaan vang.

Die scenario wat hulle aan hom stel is verbeeldingryk. Een dood word deur die ander opgevolg en die verwagting is dat die langslewende verantwoordelikheid vir sy broer se vroue en kinders sal neem. Maar nou het die “noodlot” ʼn interessante wending geneem. Sewe broers, al sewe is dood, die vrou oorleef die hele spul.

Wie se vrou sal sy in die ewigheid wees? Die antwoord wat hulle klaar bedink het is “sien, daar is nie lewe na die dood nie want anders sal hierdie situasie onhanteerbaar wees”.

Jesus is te slim vir ons. Hy ken van ver ons gedagtes. Hoe korrup is die mens wat homself voor God wil regverdig nie!

Jesus antwoord nie soos hulle verwag het nie. Hy wys hulle op die Skrif. Trou en die huwelik is vir hierdie bedeling. Die feit dat daar ʼn komende bedeling is word bewys deur Moses se ervaring by die doringbos. Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob, derhalwe nie van dooies nie.

Ons God is slimmer as al die redenasies van mense. Prys sy Naam.

Is daar nie enorme troos in die woorde van Jesus nie. Hy is die God van lewendes. Derhalwe is ons daarby ingesluit. Ons sal in die volgende bedeling langs al die helde van Hebreërs 11 staan en lof aan die Koning toebring. Ons lewe nou en sal in die ewigheid lewe. Sy opstanding bevestig hierdie waarheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans ·

Kan julle vir my beskryf wat gebeur in die Hemel met die mens. Dwaal jou gees net doel loos rond en wat is regtig in die hemel .party mense se dit is n mooi tuin en ander se weer dis n plek van rus. Daar is dit dood stil geen beweeging nie net rus en vrede. Nou wat is dan die doel om hemel toe te gaan .Niemand wil hell toe gaan nie want almal weet wat in die hell aan gaan, maar niks word met sekerheid gese wat in die Hemel gebeur nie. Laat weet ons asb . Dankie.

Kallie ·

Frans, Jesus het vir elkeen van ons wat Sy verlossing aanvaar plek gaan maak in die hemel. Hier op aarde het ons elkeen so baie sonde, en ons sou nooit hemel toe kon gaan as Hy nie die prys betaal het nie. Daar sal ons vir God heeldag kan loof en dankie sê, dat Hy ons verlos het van die sonde en dood, die ewige straf. Ons sal saam met die engele kan sing en Hom loof, en vir altyd aanhou om dit te doen omdat Hy ons geskape het om Hom te verheerlik en omdat Hy ons gered het uit die dood en ewige straf. En daar sal ons geen probleme meer hê nie, of siektes of pyn nie, of konflik of stres nie, of honger of dors nie, of enige iets wat ons weg van Hom af gehou het nie. Nou kan ons dit nog nie volkome verstaan of ons indink daarin nie, maar glo my dit gaan ongelooflik fantasties wees.

John ·

Frans, hou jy nie van geskenke nie… ‘n toegedraaide pakkie met ‘n heerlike verrassing binne. In Daniel en Openbaring is baie riglyne oor sekere gebeure en oor ander is duidelik ‘n sluier getrek. Vir diegene wat liefs die hel kies omdat hulle weet wat gaan gebeur omdat die paradys wat wag nie uitgespel word nie, kan seker maar die breè weg kies, want daar is skynbaar baie mense wat van ly hou… saam ly… omdat die Skepper nie vir ons wil luister nie.

JohanL ·

Frans, ek dink nie iemand weet regtig ten volle en presies nie. Alle aanduidings in die Bybel is egter dat dit ‘n wonderlike lewe vol liefde en sonder haat sal wees. Wat almal die hele tyd doen is nie duidelik nie, alhoewel lofprysing van onse Vader een van die dinge is. Lees gerus Ds Isak Burger se nuutste boek Die Dood en die Lewe hierna. Baie insiggewend en sal dalk bietjie lig werp op jou vraag.

Net vanoggend in my dagstukkie gelees dat die wonderlike dinge waarmee God ons sal seen in die hemel, soveel beter sal wees as die moeilike dinge waarmee ons te make het op die aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.