ToekomsVenster: Dink kleiner

skilpad-klein

Foto: Arun Thomas/Pexels.com

Die koninkryk van God is die ruimte waar God se heerskappy, God se eer, God se heerlikheid en God se soewereinheid wil heers.

As burgers van die koninkryk staan ons voor die versoeking om ons impak vir die koninkryk aan die getalle wat ons na byeenkomste trek te meet. Ons voel teleurgesteld wanneer daar ’n klein groepie opdaag vir ’n huweliksweek of wanneer daar ’n handvol aanmeld vir ’n uitreik na die nood in die gemeenskap. Wanneer ons na die Koning van die heelal kyk en Sy optrede in Sy gemeenskap dophou, sal ons die volgende leer:

1. Die geringste in die gemeenskap is die belangrikste. Dus moet ons fokus op die kinders en niks doen wat hulle sal verhinder om na Hom toe te gaan nie. Dit sluit ons strukture, keuse van liedere en dies meer in. Ons fokus moet begin by die kleinste in die gemeenskap, want dit is waarmee Jesus die koninkryk vergelyk.

2. Jesus spandeer die drie jaar van sy bediening met twaalf manne. In daardie twaalf was daar sy binnekring van drie; Jakobus, sy broer Johannes (die geliefde dissipel) en Petrus (die Rots). Jesus se fokus was nie op die getalle nie, maar op die individue. Dink nou maar aan al die enkelinge wat Jesus op die pad raakgeloop en genees het. Die koninkryk van God gebeur in oomblikke van intimiteit en nabyheid. Ons moet dus nie ontmoedig raak wanneer ons die voorreg het om ’n hele naweek van geloofsgroei in die lewens van ’n handjievol mense te belê nie.

3. Moenie die kleinste van dade onderskat nie. ’n Beker water by ’n put het gelei tot die bekering van ’n gemeenskap in Johannes 4. Moet dus nie die geleentheid om ’n garage pie saam met ’n vreemdeling te deel, geringskat nie. Gaan drink daardie koffie, gaan groet daardie persoon, gaan help daardie een wat alleen sukkel met die liefde van Christus Jesus. Wees getrou in die klein dingetjies; hulle tel!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.