ToekomsVenster: Dink, praat en bely positiwiteit

dagbreek

(Foto: Visit361/Pixabay.com)

“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.” – Psalm 32:8

Ons staan aan die begin van ʼn splinternuwe jaar (spiksplinternuwe jaar, mooi uitdrukking nè!) Teen hierdie tyd het ons darem gewoond geraak daaraan om te sê: “2023”.

Nuwe jaar, nuwe uitdagings, nuwe geleenthede, nuwe moontlikhede, ervarings, avonture, uitnodigings, krag en genade.

Dit klink darem baie beter as nuwe moeilikheid, teleurstellings, wroeging, pyn, hartseer en bekommernis.

Kom ons raak geoefen in die kuns om anders te praat en anders te dink, selfs al voel jy nie daarna nie.

Die Bybel sê in Romeine 10:17 (AFR 53): “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”

Die betekenis is tog duidelik – as jy sê wat die Bybel sê (dink aan Jeremia 29:11: “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed nie teëspoed nie”), en dit hardop bely, wek dit geloof in jou.

As jy negatief dink, praat en bely tel die ore dit op en dit word omgeskakel in verdere moedeloosheid en negatiwiteit.

Dalk simplisties, maar waar.

Omring jou met mense wat positief, gelowig en met vertroue na die lewe, ook die jaar 2023, kyk.

Uiteraard is daar mense wat oor ons pad kom wat bemoediging nodig het, wees daar vir hulle. Dit is verder onafwendbaar dat ook jy iewers uitgeput en moedverlore sal voel. Hopelik sal ander dan daar wees vir jou.

Om egter aan moedeloosheid woonplek in jou lewe te gee, is om jou eie menswees te ondergrawe.

Gee die moedeloosheid en ongeloof in jou lewe kennis. Verblyfregte word totaal en met onmiddellike effek opgeskort. Kies om 2023 met geloofsvertroue tegemoet te gaan. Soek die spreekwoordelike silwerrand om selfs die donkerste wolk.

Wanneer die Here dan in Psalm 32:8 na ons toe kom met die belofte van sy leiding, sorg, troos en daar-wees, het ons die energie wat nodig is om met oorgawe te leef.

Leef met ʼn oop en ontvanklike gemoed.

God deel vandag sy gawes met jou.

Die jaar is veels te jonk om nou al handdoek in te gooi, inteendeel, kies die lewe en die lewe sal vir jou kies.

“Maar luister nou baie mooi. Ek stel julle vandag voor die keuse. Julle kan self kies. Julle moet kies wat julle wil hê. Wil julle hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, of kies julle vandag teëspoed? Kies tussen lewe en dood!” – Deuteronomium 30:15 (DB)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Here vat me hand en help my oor die bulte van negatiewetyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.