ToekomsVenster: Dis nie waar die probleem lê nie

vrou-bid-vrees-dink

(Foto: Ben White/Unsplash)

 “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.” – Matteus 6:31

Ek luister na iemand wat vertel van sy moeder wat op ʼn stadium baie oorgewig was. As gevolg daarvan het sy talle gesondheidsprobleme ondervind. Haar knieë en heupe het uiteraard probleme gegee omdat dit net nie kon byhou nie. Sy het daadwerklik besluit om van die onnodige gewig ontslae te raak. Later toe haar gewig genormaliseer het, kom sy met dankbaarheid agter dat haar knieë en heupe nie meer protesteer nie. Die probleem was nie die gewrigte nie, maak nie saak hoeveel aanvullings en medikasie sy sou neem nie. Die probleem was die gewig en die ongemak wat dit veroorsaak het.

In oordragtelike sin, is dit die onnodige en bitter swaar gewig van bekommernis wat ander probleme veroorsaak. Depressiwiteit, moedeloosheid, angs en slapeloosheid om maar ʼn paar sake te noem, mag daarmee in verband staan.

Ek wil nie emosionele uitdagings simplisties benader nie, dit is inderdaad kompleks. Dit is tog die moeite werd om te oorweeg in watter mate die ongemak verband hou met ʼn lewe van self regkom, eie planne maak, God se helpende Hand weg te wys en slim te probeer wees.

Ons maak die lewe somtyds so moeilik vir onsself. Die Bybel maak dit tog baie duidelik dat die Here goeie dinge vir ons in gedagte het. Die bekende teks in Jeremia 29 verwys. Daar is baie ander voorbeelde ook.

Ons dink somtyds aan God as iemand wat die lewe vir ons ondraaglik swaar wil maak. Die een toets word deur die volgende opgevolg. Daar is skaars tyd vir asem skep voordat die volgende golf jou oorweldig. Die rotse is gevaarlik naby. Ek dink dit is duidelik ʼn verkeerde beeld van God.

As Hy ʼn Vader is en Hy is dit, skep Hy ʼn behae daarin om goeie gawes aan sy kinders te gee. Dit beteken nie dat daar nie somtyds uitdagings kom nie. Ons moet te ene male realisties wees. Jesus het ons gewaarsku dat ons dit in hierdie wêreld moeilik sal hê, maar verklaar Hy: “Ek het die wêreld oorwin”. – Johannes 6:33

Verander jou denke oor God. Bely dat Hy goed is en goed is sonder einde. Spreek die belofte van Psalm 23 hardop uit: “Goedheid en guns sal my volg in 2023, ook al die dae van my lewe, ek is tuis in die huis van die Here”.

Raak ontslae van die ekstra kilo’s. Dit striem jou onnodig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.