ToekomsVenster: Dissipline, struktuur en begeleiding

(Foto: Annie Spratt/Unsplash.)

“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ʼn groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.” – Matteus 18:6 (AFR83)

Laat my toe om hierdie week af te sluit met nog ʼn paar aantekeninge oor kinders.

Ek wil my vroeëre stelling herhaal, kinders is nie engeltjies nie. Soos grootmense, maak hulle oordeelsfoute.

Daar is versagtende omstandighede. Kinders het nie die verwysingsraamwerk wat volwassenes veronderstel is om te hê nie.

Ouers het die verantwoordelikheid om daardie verwysingsraamwerk by kinders te kweek en tuis te bring. Dit gebeur met baie liefde en geduld.

Ouers het die verantwoordelikheid om kinders daarop te wys dat keuses gevolge het en dat ʼn mens daarvoor moet pa staan.

Dat kinders dissipline en struktuur nodig het, hoef nie eers beredeneer te word nie. Persoonlike verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid is nodig om die wêreld te laat vlot. As elke mens net doen wat hy wil doen, het ons totale chaos in die samelewing. Dit is dalk een van die probleme in Suid-Afrika, die gebrek aan dissipline, maar dit is ʼn gesprek vir ʼn ander dag.

Die vraag is hoe ʼn mens jou kind op ʼn verantwoordelike wyse begelei om goeie keuses te maak?

Opvoeding moet vormend en voorkomend wees.

Jy begelei die kind, voordat hy verkeerde keuses maak, deur op ʼn bevatlike wyse die gevolge van verkeerde dade en optrede gepas oor te dra.

Die saak van dissipline is ʼn besonderse sensitiewe en emosionele aangeleentheid.

My verstaan is dat daar ʼn verskeidenheid van maniere is waarop kinders begelei kan word.

Om kinders fisies aan te rand is, wat my betref, onmenslik en, sover ek weet, teen die wet.

Of verkeerde optrede (by kinders) met geweld reggemaak kan word, is ʼn belangrike vraag. Om verder die Bybel in te span en die aanranding van jou kinders te regverdig, is doodgewoon onverantwoord en onbillik.

Miskien moet ons ʼn paar lesse leer oor hoe die Here ons begelei wanneer ons foute maak?

Somtyds, toegegee, moet ons met die gevolge van ons optrede en keuses saamleef, maar selfs te midde van sulke tye tel die Vader ons op sy skoot. Nie om ons ʼn drag slae te gee nie, maar ons van sy voortdurende liefde, aanvaarding en omgee te verseker.

Mag ons, as ouers, wysheid ontvang.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Nee man, Jannie, hierdie keer maak jy ‘n fout. Jy besef natuurlik jy impliseer dat jy indirek/direk die Here “onverantwoordelik en onbillik” noem as jy gedeeltes uit Sy Woord minag? Spr 13:24 en Spr23:13 onder andere, dit kom baie plekke voor.
Ons kan nie los en vat in Sy Woord wat ons persoonlike persepsies nie pas nie. Wanneer die Here iets sê, sê Hy dit met rede.
En moet nie die land se sekulere wette te hoog ag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.