ToekomsVenster: Dit is nooit te laat

(Foto: Ben White/Unsplash)

“Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.” – Spreuke 27:1

Jy het seker ook al die woorde “as ek my lewe kan oor hê” gebruik. Ek dink nie daar is enigiemand op aarde wat alles waaroor hy gedroom het bereik het nie, wat elke geleentheid benut het nie, wat sy of haar potensiaal volledig uitgeleef het nie.

Diep binne ʼn mens is jy intens bewus van “water wat onder deur die brug gevloei het” en onherroeplik verby is. Feit van die saak is, wat verby is, is verby. Gister is gedane sake.

Die beste wat ʼn mens kan doen is om bewus te word van die hier en nou, die huidige oomblik, en te vra watter geleenthede nou na jou kant toe kom.

Ja, daar was omstandighede wat die nastreef van jou drome gekniehalter het:

  • Die kinders was klein en het baie tyd geverg.
  • Geld was skaars en jy kon nie ʼn studentelening verseker nie.
  • Die bank wou nie aan jou geld leen nie.
  • Jy het nie keuring gekry om daardie loopbaan te volg nie.

Soveel redes wat opgenoem kan word, die meeste daarvan waarskynlik redelik legitiem.

Weereens, gister is verby, vir altyd. Vandag is nou hier. Selfs môre is onseker, maar daar is darem die belofte van ʼn toekoms.

Jy kan met ʼn bietjie wilskrag en deursettingsvermoë steeds iets aan jou droom doen:

  • Jy kan ʼn begin maak, skryf in vir die kursus.
  • Jy kan die sakeonderneming begin, doen aansoek vir finansiering.
  • Jy kan die leefkamer groter maak, kry die planne in plek.
  • Jy kan ʼn gelukkige huwelik hê, sien ʼn berader.
  • Jy kan gesond word, kom by die geneesheer uit.

Jy kan!

As jy nie kan nie, kan iemand anders. Maak dit vir hom of haar moontlik. Soek iemand wat jou droom deel en maak dit vir hom of haar moontlik.

Hou op verskonings maak. Dit is nog nie te laat dat iets, hoe gering ook al, van jou lewensdroom verwesenlik kan word nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat dit nooit te laat is nie…..U genadevolle liefde en sorg omvou my elke dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.