ToekomsVenster: Dit neem tyd om trauma te verwerk

berading-vir-trauma

Berading kan slagoffers van trauma help. Foto: Chestermerecounselling.com

“Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.” − 2 Korintiërs 12:9

Ons gesels oor trauma en hoe dit mag uitspeel in ʼn mens, ook  ʼn Christen, se lewe.

Trauma is iets anders as die daaglikse uitdagings waarmee ons gekonfronteer word. Trauma sny diep en ʼn mens kom nie sommer oornag daaroor nie.

Mense vra hoe lank dit neem om  ʼn traumatiese ervaring te verwerk en deur te werk?

Weereens kan ʼn mens nie voorskriftelik wees nie, omdat ons van mekaar verskil. Ek vermoed dat ʼn mens nooit volledig oor ʼn diepsnydende trauma kom nie.

Trauma beteken verlies van een of ander aard.

Jy verloor ʼn lewensmaat, ʼn kind of naby familielid op wie jy gesteun het.

Jy verloor ʼn ledemaat of die vermoë om onafhanklik te funksioneer.

Jy verloor ʼn gevoel aan sekuriteit en veiligheid ná die een of ander gebeurtenis.

Jy word finansieel geruïneer en die geleentheid om dit wat jy verloor het weer terug te kry, is verby.

Verlies is ingrypend en laat jou met ʼn gevoel van leegheid.

Sommige omstandighede herinner jou weer aan dié hartseer gebeure, en skielik oorval die hartseer en verlange jou weer.

Jy is net ʼn mens.

Mense voel, beleef en verlang − dit is normaal.

Dan weer is daar sprake van afsluiting. Iewers begin jy leef vanuit die gawe herinneringe wat jy oorhou. Jy begin jou omstandighede nuut interpreteer en sien nuwe moontlikhede raak. Jy keer terug na die lewe nadat jy vir ʼn korter of langer tyd hoop wou opgee.

Jy begin weer die mooi in die lewe raaksien en dankbaarheid vir die gawes wat God gee begin weer die oorhand kry.

As ʼn mens egter vir ʼn lang, uitgerekte periode nie by die punt van afsluiting kom nie, is professionele hulp uiteraard nodig.

Ek bid dat die Here jou pyn verlig en jou oorweldig met ʼn ervaring van Sy teenwoordigheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

En tenspyte van alles is U Here by ons…U beloof dit en ek glo dit Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.