ToekomsVenster: Dra liewer die vrug van die Gees

(Foto: Stephan Hauman)

“Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is.” – Matteus 3:8 (AFR83)

Ek luister na ʼn reklameflits oor die radio waar die nuwe Suid-Afrikaanse banknote bekendgestel word. ʼn Belangrike aspek daarvan is dat vervalsing nie kan plaasvind nie omdat sekere veiligheidsmaatreëls in plek gestel is.

Hou jy die note teen die lig, vertoon oudpresident Mandela se beeld op ʼn bepaalde manier om maar een voorbeeld te noem.

Nou ja, misdadigers vind altyd ʼn manier om ʼn saak wat hulle nie pas nie te omseil.

Tyd sal leer hoe effektief die maatreëls is wat ingestel is om vervalsing te voorkom.

Ten einde ʼn vervalsing te identifiseer moet ʼn mens fyn kyk. Die oorspronklike en die vals noot lyk uiteraard bykans identies. Dit is waarom vervalste note steeds in omloop gevind word.

Die ware en die valse, dit wat eg is en dit wat nagemaak is. Die een is die ware Jakob en die ander is niks werd nie.

Hoe identifiseer ʼn mens ʼn ware Christen teenoor iemand wat voorgee dat hy ʼn Christen is?

Uiteraard kan ʼn mens nie in iemand anders se hart inkyk nie.

Hoe die Here met iemand besig is, is nie met die blote oog waarneembaar nie.

Tog gee die Bybel sekere riglyne.

Jesus sê dra die vrug wat by die bekering pas.

Daar is verskeie opgawes in die Bybel van hoe so ʼn lewe lyk.

Neem Galasiërs 5:22 as voorbeeld:

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Ek wil dit egter weer sê en onderstreep. Dit is nie ons taak om sogenaamde ware en valse Christene uit te wys nie. Dit grens aan arrogansie.

Tog is daar iets soos die onderlinge vermaning. Ons moet mekaar help op die pad van die geloof.

Die Here se eer is op die spel.

As ek konsekwent ongeduldig, afknouerig en verkleinerend is en optree, is daar fout. As ek ernstig is oor die Here, soek ek hulp.

Miskien is daar ʼn onderliggende oorsaak.

As ek egter my optrede bly verskoon en hardvogtig optree teenoor ander, kan ʼn mens inderdaad vra of die betekenis van die nuwe lewe in Christus daadwerklik in my lewe deurgesuur het.

Ons moet eg wees.

Ons is op die weg van heiligmaking en vertoon al hoe meer die karakter van Jesus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.