ToekomsVenster: Draai terug

vrou-bid-gebed

(Foto: Ben White/Unsplash)

“En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.” – 2 Kronieke 7:14

Dit gaan mos maar so, doen jy iets is jy in die moeilikheid en doen jy niks, is jy ook in die moeilikheid.

Ek reken dit is hoe dit is met die welbekende Angus Buchan. Sommige sien in hom as ʼn vader van die nasie en ander wonder oor hom.

Die boere-prediker gaan in die nabye toekoms digby Krugersdorp ʼn gebedsaamtrek hou. Angus en groot byeenkomste is sinoniem. Dink maar aan Bloemfontein waar massas mense saamgetrek het. Die logistiek van so ʼn byeenkoms is verbysterend, om nie eers aan die koste te dink nie.

Mense van heinde en ver woon die verrigtinge by. Sommige kamp sommer op die terrein. Oorsese besoekers is ook nie ongewoon nie.

So kuier-gesels ek met Angus in ʼn onderhoud wat oor die radio uitgesaai is.

Ek verwys na Suid-Afrika en sy vele uitdagings. Getrou aan sy vertrekpunt as oplossing vir al die probleme wat ons plaaslik en wêreld wyd in die gesig staar, verwys hy my na 2 Kronieke 7:14.

Die teks is oorbekend. Die teks vorm die basis van gebede wat vir baie jare reeds gebid word. Die gebed is ʼn versugting van God se volk dat Hy herlewing sal stuur.

Herlewing het daarmee te doen dat mense, God se mense vernaam, tot nuwe lewe gewek word. Jy kan net iets laat herleef wat reeds daar was en op die agtergrond geraak het. So gesien het Christene in Suid-Afrika, en ek veralgemeen uiteraard, wat hul liefde en oorgawe aan God betref, ietwat verkoel.

Of dit waar is van jou wat hier lees, moet jy self besluit. Ek glo dit het wel heelwat meriete oor Christene in Suid-Afrika oor die algemeen.

Dalk het die toksiese omgewing waarin ons onsself bevind iets met Christene se louheid te doen?

Angus verwys my na die teks in Openbaring: “As julle maar koud of warm was, maar nou is julle lou. Ek sal julle uit my mond spoeg.” Sjoe, ontstellende woorde behalwe vir die moontlikhede wat die teks in 2 Kronieke 7:14 ontsluit.

Die teks begin met: “As my volk”. Dit is ʼn bitter pil om te sluk, dat Suid-Afrika dalk lyk soos hy lyk omdat God se kinders, sy volk, die pad byster geraak het.

Ek hou nie van reguit lyne trek nie, maar kom ons oorweeg dit vir ʼn oomblik. Ek by myself en jy by jouself. Het die genesing van Suid-Afrika iets te doen met ons geestelike toestand?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andries ·

Het die genesing van Suid-Afrika iets te doen met ons geestelike toestand? Ja, ons stilswye as lidmate van die kerk is die rede vir die toestand van hierdie land. Ons versuim om die woord van God te bely en uit te spreek oor elke faset van ons lewe.

Yvonne ·

Here U wat ons beter ken as wat ons ons self ken weet van elkeen se tekortkominge…maak ons harte , oe en ore oop…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.