ToekomsVenster: Ek het al vergeet hoe dit voel om naby aan God te wees

(Foto: Anthony Tori/Unsplash)

“Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” – Jakobus 4:8

ʼn Mens se verhouding met die Here is uniek en in sekere opsigte privaat. Immers, daar word dinge teenoor God bely wat jy nie ander van vertel nie. Jy deel jou hart met Hom sonder om enigiets terug te hou. Somtyds is jy selfs kwaad vir Hom. Dit is alles deel van die unieke en besondere verhouding wat jy met jou Hemelse Vader het. Hy weet tog alles, waarom sou ons probeer om goed vir Hom weg te steek. Die Bybel sê selfs die nag is nie vir Hom donker nie. Hy ondersoek die mens en weet wat in die diepste hartkamers weggebêre is.

ʼn Mens se bekeringservaring is baie besonders. Weereens gebeur dit op verskillende wyses in elke mens se lewe, maar dat daar inderdaad sprake is van ʼn bekering en toekering is inderdaad so.

Vir sommige is dit radikaal, emosioneel en intens. Ander maak die som en reageer op die feit dat goeie werke ʼn mens nie met die God van hemel en aarde kan versoen nie. Net die bloed van Jesus bring verlossing en lewe. Beredeneerd en bykans klinies praat hulle met God die saak uit.

Sommige stap tydens ʼn uitnodiging by ʼn erediens uit om hul hart “vir die Here te gee”. Ander ontmoet Hom in die privaatheid van hul eie binnekamer. Ander word bewus van God in die natuur terwyl die grootsheid van dit alles oorweldig. Ander roep om genade vanaf ʼn siekbed of een of ander traumatiese ervaring.

Soveel mense, soveel moontlikhede. Hoofsaak is dat daar ʼn ontmoeting, ʼn afspraak plaasgevind het waaroor die verlede (noem dit jou sondige verlede), die teenswoordige (jou besef van afhanklikheid) en die toekoms (jou hoop op die ewigheid) met God gepraat word.

In my geval 26 Januarie 1977, op die stoep buite my kamer waar my broer gelê en slaap het. “Here,” het ek gebid, “ek het U nodig. Ek kan nie sonder U lewe nie en ek kan nie sonder U sterwe nie. Maak my U kind”. Oombliklik, wonderbaarlik en hemels het my lewensrigting verander.

Maar, soos vir baie van julle, lê dit ver terug. Die bekeringsgloed, die wittebrood van daardie eerste ontmoeting en huweliksluiting wat gebeur het, is lank reeds vergete. Die lewenstempo, die bekommernis wat deel daarvan is, die gejaagdheid en gesukkel om siel, gees en liggaam aan mekaar te hou, veral in die mate waarin ʼn mens dit self probeer doen, het sy tol geëis.

Om die waarheid te sê, jy hunker na ʼn nuwe ontmoeting met Hom, die Lewende.

Die goeie nuus is dat God ook daarna verlang om jou te omhels, te verseker van Sy goeie bedoelings met jou, van Sy oorvloedige genade.

Dit is nie moeilik om weer daar te kom nie.

Bely dit, sê dit en vra dit van die Here.

Sommer nou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Luane ·

Hi.
Baie baie Pragtig.
Ons lewe elke dag agv God se genade en 95% Van ons lewe besef ons dit nooit.

Elke dag is n voorreg Wat God ons gee maar ons as mens laat dit lyk of dit n reg is.

Vlekkie ·

Wat ‘n insiggewende stukkie was dit nou vir my vanmore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.