ToekomsVenster: Ervaar ware geluk

(Foto: Stephan Hauman)

“Gelukkig is die volk met wie dit so gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!” – Psalms 144:15 (AFR83)

Die bergpredikasie is baie bekend. Dit verteenwoordig die langste preek wat Jesus gelewer het terwyl Hy op aarde was. Die preek beslaan Matteus 5-7 en baie sake word daarin aangespreek. Deel van die bergpredikasie is die sg. saligsprekinge. Agt verskillende sake word aan die orde gestel en elkeen begin met dieselfde begrip: gelukkig of geseënd.

Die Bybel se definisie van wat ware geluk verteenwoordig en die van die wêreld, die heersende kultuur, verskil hemelsbreed.

Die meeste mense sal geluk as genoeg geld in die bank, ʼn goeie posisie by die werkplek, liggaamlike gesondheid en aanverwante dinge beskryf. Uiteraard is hierdie sake belangrik en dit is hoegenaamd nie verkeerd om daarna te streef nie.

Die gedagte dat ʼn mens van ander afhanklik moet wees net om van dag tot dag te bestaan, is ver van aantreklik. Daar is miljoene mense in Suid-Afrika wat op aalmoese aangewese is.

Die Here is vir ons goed en die meeste van ons dink nie twee keer oor waar die volgende bord kos vandaan sal kom nie.

Terwyl die dinge wat ek opgenoem het nie verkeerd is nie en ʼn mens moeite moet doen om daardie sekuriteite in plek te kry, beweer Jesus dat dit nie die alfa en omega is nie.

Ware geluk bestaan in ander dinge.

Dit bestaan ten diepste in ʼn lewe wat aan God toegewy is en op die nood van ander ingestel is. Dit is ʼn lewe van prysgawe, van opoffering en van mededeelsaamheid. Dit is om die belange van die wat op die kant staan op die hart te dra en te sien hoe jy daaraan ʼn verskil kan maak.

Waarin lê die geluk en die seën dan opgesluit? Die wete dat ons besig is om uitdrukking te gee aan ons lewensroeping, dat ons die Koninkryk van God sigbaar maak in hierdie wêreld, dat ons in die voetspore van ons Here en Heiland loop.

So ʼn lewe word met die ewige lewe beloon. So ʼn lewe ken vrede te midde van swaarkry, ervaar self warmte en barmhartigheid, so ʼn lewe is geseënd.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.