ToekomsVenster: Gekom om die wet sy volle betekenis te gee

bybel-lig-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

 “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” – Matteus 5:17

ʼn Mens hoor dikwels dat mense sê dat hulle nie onder die wet is nie, waarmee hulle bedoel dat reëls en regulasies hulle nie geval nie. Hulle is vry om te kom en te gaan, te doen en te sê wat hulle wil. Enige poging om mense tot verantwoording te roep word as die wet afgeskryf.

Dat daar sommige Ou Testamentiese wette is wat in ʼn postmoderne tyd nie meer gehandhaaf word nie, is inderdaad so. Die wetenskap het in die mate ontwikkel dat ons antwoorde en oplossings het vir baie van die destydse probleme en uitdagings.

Baie sogenaamde wette was rigtingwysers wat op die koms van die Seun van die mens gedui het. Dit is in Christus Jesus vervul.

Ander was bedoel om ʼn ordelike samelewing daar te stel. ʼn Mens moet onthou waar die Here sy volk gaan haal het. Vir meer as 480 jaar was hulle slawe in Egipte. Slawe maak nie besluite ten behoewe van hulleself nie. Slawe doen wat hulle voorgeskryf word. Slawe dink nie en droom nie. Slawe is niks anders as lewende masjiene nie.

Na eeue van slawerny en die mentaliteit van slawerny wat daarmee gepaard gaan, roep die Here Moses om sy volk te bevry. Die geskiedenis is aangrypend en bekend. Uiteindelik word Faro beweeg om die volk van die Here te laat gaan en gee hulle die eerste tree om voluit die volk van die Here wees.

Dit het ʼn baie lang tyd geneem om die volk uit Egipte te kry. Om Egipte uit die volk te kry was egter ʼn groter uitdaging.

ʼn Mens raak nie sommer net van ʼn slawementaliteit vry nie. Jy moet voortdurend herinner word aan wat God vir jou gedoen het. Ten einde ʼn volkslewe te vestig was dit belangrik dat sekere reëls ingestel word. Vandaar sommige van die Ou Testamentiese wette wat dikwels vir ons in ʼn postmoderne konteks vreemd is.

Terug by ons gedagtes, Christene wat sê: “Ons is nie onder die wet nie”. Die stelling is waar, maar gekwalifiseerd waar.

Die wet het as ʼn eksterne opgawe van reëls na mense gekom, mense wie se harte nie verander het nie. Vleeslike mense, onveranderde mense.

Op daardie manier hou niemand van reëls nie, niemand wil voorgesê en voorgeskryf word nie.

Wanneer mense se harte verander, die Bybel sê, die wet van God op mense se harte geskrywe word, is dit ʼn ander storie. Om God te behaag is tog gelowiges se grootste begeerte. Die opsomming van die wet is om God en ons naaste lief te hê.

Die wet het die belang van ons naaste op die hart. In daardie sin is ons onder die wet, gewilliglik, sonder opstand, met blydskap en oorgawe.

As die wet dan sê die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie, dan vind Christene dit nie aanstootlik of moeilik om God te gehoorsaam nie. Immers, God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees. Alles het nuut geword. Ons dien die Here, ook ons naaste, doodgewoon omdat dit ons wil en begeerte verteenwoordig.

Jesus sê Hy gee die wet en die profete hul volle betekenis.

As jy steeds teen die wet gekant is, besluit dan met verwysing na die tien gebooie, van watter wet jy ontslae wil raak?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk ·

Daar is heelwat meer as net tien, en elke liewe een geld vandag nog. Mits iemand natuurlik Jesus se woord verdraai het, en ek dink ons almal weet wie die sondebok is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.