ToekomsVenster: Genadewens aan die kinders van die Here

Argieffoto. (Foto: Dapo Oni/Unsplash)

Die genade van onse Here Jesus Christus sal met julle wees, broeders! Amen. – Gal. 6:18

In aansluiting by gister se boodskap wat handel oor die oorvloedige en ongeëwenaarde genade wat God in Christus Jesus aan ons bewys het, het ons dan hierdie vers waarmee Paulus sy brief aan die gemeente in Galate afsluit. Dit is Paulus se genadewens aan die kinders van die Here.

Die erediens word gewoonlik met so ’n genade-toesegging afgesluit. Dit is veel meer as ’n afsluitings- en verdagingsformule. Dit is inderdaad iets wat uit die hart van God by sy gemeente moet en mag tuiskom.

Somtyds nooi ek die gemeente uit om eg kinderlik hul hande oop te maak en te ontvang wat die Here met hulle deel.

Sy genade beteken dat Hy by en met ons is, dat Hy die pad met ons stap en ons deur die Heilige Gees daarvoor toerus.

God is boonop meer as in staat om wat Hy belowe in ons lewens te verwerklik. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Verbondmatig skep Hy ook ’n behae daarin om sy kinders soos in Psalm 23 onder alle omstandighede te dra.

Gelowiges moet egter ook leer om vanuit hierdie genadetoesegging te leef. Intellektuele bewustheid is nie genoeg nie. Dit is soos ’n fontein met lewegewende water. As jy nie jou emmer daarin laat afsak en die verkwiklike water daaruit skep nie, bly dit net waar dit is.

Genade moet toegeëien en waardeer word, ’n mens leer leef uit die genade. Jy bely en herinner jouself elke bewustelike oomblik dat God se genade genoeg is.

Paulus was gekonfronteer met dit wat hy ’n “doring in die vlees” noem. (2 Kor. 12:7) Daar bestaan allerlei teorieë oor wat dit kon wees alhoewel dit nooit by name geïdentifiseer word in die Skrif nie. Hy het dikwels gebid dat die Here hierdie saak in sy lewe sou oplos. God se antwoord egter was, “my genade is vir jou genoeg”.

Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. – 2 Kor. 12:9

God se pad met ons is somtyds misterieus en menslik gesproke onverstaanbaar. Ons weet dat Hy dit goed met ons bedoel. Ons weet dat sy liefde oorvloedig is. Wanneer uitdagings kom waarvoor daar oënskynlik nie uitkoms kom nie, is God se genade steeds die bron van krag van waaruit ons leef.

Ontvang derhalwe die seën van die Here en gaan die lewe tegemoet in sy vrede: Mag die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God die Vader en die kragtige gemeenskap van die Heilige Gees met jou wees en by jou bly. Vandag en elke dag. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.