ToekomsVenster: God bewaar jou liggaam, siel en gees

(Foto: Beto Galetto/Unsplash)

“Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!” – 1 Tessalonisense 5:23 (AFR83)

Ek gesels op my radioprogram met twee psigiaters oor holistiese gesondheid. Ek noem dit sommer, vol-rond-gesond.

Daar is verskillende modelle wat na die samestelling van die mens verwys. Ek dink “siel, gees en liggaam” werk vir die meeste van ons, trouens ek dink dis hoe die Bybel na ons kyk. Soos God ʼn Drie-eenheid is, is ons ook ʼn drie-eenheid, immers ons is na sy beeld en gelykenis geskape. Ons is nie God nie, maar ons is die ewebeeld van God.

Die dimensie waarmee ons waarskynlik die meeste bekend is, is ons liggaamlike dimensie. Ons mag anders vertoon omdat ons van mekaar verskil, maar ons het almal ʼn liggaam.

Ons liggame is baie belangrik, nie net vir onsself nie maar ook vir God.

Sommige beskou die liggaam as ʼn oorlas. As iets wat sondig, verkeerd en onaanvaarbaar is en wat onderwerp en mishandel moet word, omdat dit die bron van sonde sou wees.

Dit is kortsigtig, nie Bybels nie.

In die kloosterwese het monnike hulleself gekasty as ʼn manier van toewyding aan God. Dit, op sigself, bring niemand nader aan Hom nie. Die Bybel sê immers, ons liggaam is ʼn tempel van die Heilige Gees. Die Bybel sê niemand verwaarloos sy eie liggaam nie, maar voed en versorg dit.

Wanneer Jesus die skare toespreek sê Hy nie vir hulle: “Die feit dat julle honger is, is van minder belang nie”. Planne word beraam om die mense te voed.

Jesus rus in die boot op die aand toe die storm see op sy ergste was. Dit was juis die feit dat hy geslaap het wat vir Petrus en die ander dissipels so ontstel het.

Daar is soveel merkwaardige seëninge wat met liggaamlikheid gepaard gaan. Om jouself dit willens en wetens te ontsê maak nie sin nie, behalwe as dit op doktersvoorskrif is of op enige ander wyse bydra tot jou omvattende gesondheid.

Die bedoeling is nie dat ʼn mens aan elke deel van jou liggaam gehoorsaam en gediend is nie. Daar is tye wanneer ʼn mens vir jou liggaam moet “nee” sê, “nie nou nie” of “later”. Daar is tye wat ʼn mens se liggaam ongesteld is en spesiale mediese ingryping nodig het.

Die Psalmdigter beskryf God se handewerk in Psalm 139. God se skeppingshandelinge sluit die mens in. Die digter is in vervoering oor hoe meesterlik en vernuftig God die mens aanmekaar gesit het.

Genesis beskryf vir ons hoe die Here die mens na God se beeld en gelykenis gemaak het. As Hy bedoel het dat ons ʼn wandelende gees moes wees, sou Hy ons nooit met liggaamlikheid geseën het nie.

Dis interessant dat ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely: “Ek glo in die opstanding van die vlees”.

Paulus beskryf die transformasie wat in ons vleeslikheid moet plaasvind alvorens ons die ewigheid kan beërwe, maar dit neem nie weg dat ons in ons sigbare gestalte steeds sal voortbestaan nie (1 Korintiërs 15).

Die vraag is of jy na jou liggaam kyk? ʼn Mens kan gesond leef sonder dat dit jou ʼn klomp geld kos. Jy kan die mooiste motor ry, maar as jy fisies ongesteld is beteken dit niks.

God die Heilige Gees woon in hierdie liggaam. Hy maak daarvan ʼn tempel van God. Derhalwe moet ek hierdie liggaam oppas, waardeer, vertroetel, respekteer en versorg.

Dit, op sigself, is niks minder as toewyding aan die Here nie.

Hoe is dit met jou liggaam gesteld?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.