ToekomsVenster: God is hier teenwoordig

Here-is-my-Herder

Argieffoto.

Jer. 3:14-17 – Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit ‘n stad en twee uit ‘n familie, en julle na Sion toe bring. Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei. Wanneer julle vrugbaar is en baie word in die land, in daardie dae, sê die Here, sal niemand meer uitroep: “Die verbondsark van die Here!” nie; dit sal nie meer in iemand se gedagte opkom nie, niemand sal dit eers meer noem of dit mis nie en niemand sal ‘n nuwe maak nie. In daardie tyd sal hulle Jerusalem noem: “Die troon van die Here”, en al die nasies sal in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer. Hulle sal nie hardkoppig bly nie.

Pragtige aksente wat in hierdie gedeelte voorkom. Wonder of jy dit ook raakgehoor het?

Die wat afgedwaal het word terug geroep, nie uitgeskel, verkwalik en vervreem nie. Die belofte van aan Hom te behoort word gemaak, sy “eiendom” staan daar. Dit opsigself is reeds ʼn groot stuk genade.

Die verantwoordelikheid van die herders word onderstreep. Dit is inderdaad ʼn groot verantwoordelikheid om as herder van ʼn geloofsgemeenskap op te tree.

Meer dikwels word die herders aangetree oor die bedenklike leiding wat hulle gegee het. Teenoor die onverskillige en traak-my-nie-agtige herders is Jesus die getroue Herder.

Herders het ʼn groot verantwoordelikheid wat met nougesetheid nagekom moet word.

Die verbygaande en simboliese aard van godsdienstige simbole waarmee Israel bekend was word ook onderstreep.  Die verbondsark wat oral op voorgeskrewe wyse gedra is het die teenwoordigheid van God versimboliseer.

Waar die ark was, was Hy. Waar Hy was, was die ark. Altans dit was die volk se belewenis en verstaan. Dit was egter net simbool, nie die werklikheid nie.

In hierdie nuwe fase het die ark onnodig en vergete geraak. God se troon is nou in Jerusalem, in sy tempel.

Daar is egter ʼn verdere ontwikkeling wat ons as nuwe Testamentiese gelowiges nie uit die oog moet verloor nie.

God woon ook nie in mensgemaakte tempels nie maar in die harte van sy kinders deur die Heilige Gees. Ons is die woning van die drie-enige God, weliswaar onverstaanbaar, maar waar. Kragtens die wedergeboorte het God se intrek in ons individueel en gesamentlik as kerk van die Here geneem.

God is hier teenwoordig. Laat ons biddend nader, hier waar ons voor Hom vergader. God is in sy tempel. Hemelpoorte bewe. Almal buig voor Hom wat lewe.

Die laaste belangrike faset wat hier onderstreep word is die kosmiese bedoeling van God, al die nasies staan daar. Soos eenmaal in die nuwe bedeling wat hierdie tydelike gaan vervang moet alle nasies en volke aan Hom hulde bring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.