ToekomsVenster: God is opgewonde oor jou

(Foto: Allef Vinicius/Unsplash.)

Sefanja 3:17 – Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou …

Ons het so gewoond geraak aan ʼn God wat kwaad is. Kwaad omdat ons nie aan die eise van sy Woord voldoen nie. Daarom dra ons swaar aan skuld en ons ontbreek aan vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God. Ons kom soos geestelike bedelaars en verwens onsself omdat ons so verfoeilik onbetroubaar is. Ons beklae ons lot sonder ophou en kry nooit enige verligting of oorwinning nie. Ons maak vrede met ʼn God wat ontevrede is.

Daagliks, as ons dit waag in sy teenwoordigheid, sit Hy gereed met sy boekie waarin gister se oortredinge opgeskryf is. Hy verwyt ons dat Hy sy lewe vir ons afgelê het en ons desondanks so ondankbaar kan wees.

Ek ken sulke ouers. Wanneer hul kinders nie na hul pype dans nie word hulle met skuld en verwyte oorlaai. Wanneer daardie kind toekeer is dit nie uit oortuiging nie, maar skuld. Skuld eerder as liefde is die motivering en die lewensduur daarvan is kortstondig en onbevredigend.

Ek het goeie nuus, immers, is dit nie waaroor die Evangelie ten diepste gaan nie. Nuus wat lewensveranderend is en jou al die motivering gee wat nodig is om met oortuiging en oorgawe te lewe nie. Ek “verbeel” my dat die bekende teks in Joh. 3:16 juis sê dat dit die liefde van God is wat sy Seun na die wêreld gestuur het.

Die teks wat hier ter sprake is getuig van God se goeie gesindheid jeens ons. Die teks getuig van ʼn gawe ingesteldheid en ʼn onweerstaanbare toegeneentheid. “Vol vreugde, stil tevrede in sy liefde, jubel en juig oor jou”. Dit is bykans te goed om waar te wees gegee die paradigma waarmee ons groot geword het.

Dit beteken nie dat die Here ongeërg staan teenoor ons sonde en ongehoorsaamheid nie. Dit beteken egter dat sy liefde ons nader trek en motiveer om so te lewe dat Hy inderdaad verheerlik word.

Hoe kan ʼn mens soveel liefde en omgee met onverskilligheid en ʼn koue hart begroet?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus vir U oneindige liefde en geduld…..al my lof en dank en eer kom U toe tot in alle ewigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.