ToekomsVenster: God praat met jou

(Foto: Fa Barboza/Unsplash)

“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” – Psalms 139:23-24 (AFR83)

Dit was weer een van daardie dae. Alles is verkeerd en loop verkeerd na my beoordeling. Ek moes liewer nie opgestaan het nie, net koffie en ontbyt in die bed genuttig het en verder geslaap het. Vroegoggend begin die uitdagings en dit voel asof dit nie aan ʼn einde kom nie.

Weet nie of jy ook sulke dae beleef nie? Gelukkig is dit met uitsondering, darem nie elke dag nie. As dit wel gebeur het dit die vermoë om jou erg te ontwrig en dring dit belangrike vrae oor waarmee jy besig is aan jou op. Dit is belangrik om van tyd tot tyd voorraadopname te doen en te evalueer of jy met die regte dinge besig is. Veral namate ʼn mens ietwat ouer raak, is hierdie oefening noodsaaklik. Dit is egter nie net ouer mense wat soms moet nadink nie, dit geld vir ons almal.

Metafore is wonderlike goed om mee te werk. Die Here praat op ʼn ryke verskeidenheid van maniere met mense. Uiteraard is die Skrif se woord die onfeilbare bron waarmee ons omgaan. Hy praat egter ook op ander maniere as ʼn mens daarop ingestel is. Drome, geselsies met ander mense, ʼn frase of ʼn toneel in ʼn fliek of ʼn reeks op TV, ʼn koerantopskrif, ʼn advertensiebord langs die pad, nadenke as jy stil word, ʼn lied wat oor die radio speel, ʼn toneel waarop jy afkom, so kan ʼn mens aangaan.

Metafore is beelde of simbole wat betekenis dra. Vir ons as Christene is die doop en die nagmaal twee bekende en kosbare metafore of simbole. Dit is nie die water of die hoeveelheid daarvan, selfs nie eers die wyse waarop dit bedien word wat betekenis het nie. Dit is die belofte, aanspraak, appèl, oproep wat deur die metafoor van die doop na ons toe kom wat betekenis dra.

Dis nie die wyn en brood, die hoeveelheid of gebrek daaraan, die wyse van bediening, die beker of die kelkie wat impak het op ons lewens nie. Dis die dieper betekenis verbonde aan die sakrament van die Heilige Nagmaal wat ons aanspreek, oproep, bemoedig, ensovoorts.

Dit is ook waar van die kruis en die oop graf.  Dis nie die hout of die holte in die grond nie. Dit is wat God daardeur aan ons kommunikeer. Dis die belofte van die nuwe lewe in Christus wat ons nooi om ʼn koersaanpassing te maak.

Sigbare woord, in baie gevalle tasbare woord. Ons weet mos dat multisensoriese leer die beste vorm van leer is. Ons hoor, proe, raak en ruik die genade.

Ek borduur graag hierdie week ietwat voort op hierdie tema en hoe simbole die afgelope week met my gepraat het. Miskien sal dit jou aanmoedig om meer sensitief te wees oor die wyse waarop God na ons toe kom.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.