ToekomsVenster: God se mag en grootheid

see_oseaan_sonsondergang_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind.” – Psalms 63:3

Die digter spreek sy begeerte uit, ʼn begeerte na God en sy nabyheid. ʼn Mens sou Dawid nie kwalik neem as hy sy behoefte op ʼn ander wyse verwoord het nie. Stel jouself Dawid se konteks voor. Hy is voortvlugtende. Absolom en sy bende rowers wil Dawid om die lewe bring. Dit is nie ʼn videospeletjie nie. Dis die werklikheid, koud en ongenaakbaar.

Hy sou kon vra vir versterkings, vir verwarring in die vyand se geledere. Hy sou kon vra vir geregtigheid en God se oordeel. Alhoewel hy hom later in die Psalm uitspreek teen sy vyande, is dit sekondêr. Hy verlang na God.

Dis hartseer dat die erediens (heiligdom) nie meer die hoogtepunt van ons week is nie. Bywoning is nie na wense nie en sonder om die buitengewone potensiaal en bydrae van sosiale media weg te wens, is daar ʼn ervaring wat verlore gaan wanneer die warmte van die geloofsgemeenskap nie beleef word nie.

Die Bybel maan ons om nie die onderlinge bymekaarkom van God se kinders te verwaarloos nie.

Kontekste verskil en nie alle mense kan gereeld by die erediens uitkom nie. Dis verstaanbaar. Om tog wel van tyd tot tyd die samekoms van die heiliges by te bring, is nie so moeilik nie.

ʼn Mens wonder wat dit is wat Dawid beleef in die sg. heiligdom? Hy praat van die Here se “grootheid en mag”.

Hoe sou dit vergestalt word? Wat sou hy beleef? Waarom beleef hy dit maar die belewenis gaan oënskynlik by baie gelowiges verby?

Die gebeure rondom God se lof en sy Woord is nie akademies of wetenskaplik van aard nie. Dis nie ʼn vertoning of voordrag nie. Dit is ook nie pligpleging, uiterlike vertoon en voorgee nie.

Daar is iets anders.

Ek wonder hoe jy die gebeure en ervaring rondom die bymekaar kom van God se kinders sou beskryf?

Probeer dit aan iemand anders oordra en dan op so ʼn manier dat daardie persoon ernstig oorweeg om self die volgende geleentheid by te woon.

Voltooi byvoorbeeld hierdie sin: “Wanneer ek die erediens bywoon beleef ek…”

Wens ek kan jou antwoord hoor.

Dawid se antwoord is: God se mag en grootheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

BellaFe ·

Wanneer ek die erediens bywoon beleef ek… die Heilige Gees se teenwoordigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.