ToekomsVenster: God se perfekte wil

(Foto: Cristofer Jeschke/Unsplash)

“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” – Romeine 12:2 (AFR53)

Dat die lesers en luisteraars van hierdie oordenking dit ernstig met die Here bedoel is hoegenaamd nie onder verdenking nie, inteendeel. Dit is juis waarom jy hierdie bydrae daagliks volg en oorweeg vir jou eie lewe. As ek dan gedurende hierdie week saamkuier, is dit my duidelike en onbevange vertrekpunt.

In gesprek met iemand in die onlangse verlede word die term “perfekte wil” van God herhaaldelik gebruik. Hierdie persoon is passievol om die wil van die Here en nét dit te doen. Dit is besonders en ʼn pragtige getuienis opsigself.

Die uitdaging het met die ongemak te doen wanneer ʼn mens dan nie aan daardie “perfekte wil” vir jou lewe in alle opsigte voldoen nie.

Hoe hanteer ʼn mens die skuldgevoelens wat uiteraard na die oppervlak kom en hoe vorder ʼn mens verder in jou verhouding met die Here?

Daarbenewens, hoe voel God oor die feit dat jy Hom teleurgestel het?

My verstaan van God se wil sluit aan by die gelykenis van die pa en sy twee seuns. Albei kry opdrag om in die wingerd te gaan werk. Een stem toe, maar doen dit nie. Die ander is aanvanklik onwillig, maar kry later spyt en gaan doen wat sy Vader hom opgedra het om te doen.

Die opdrag is, gaan werk vandag in my wingerd, ja, God se wil is dat ons met die opdrag sal besig wees.

In my eie lewe het ek bitter swaar gedra aan selfverwyt en minderwaardigheid as Christen wat met al die mooi voornemens gepaard gegaan het. My belydenis “ek sal dit nooit weer doen nie” is meermale met die swakheid van my eie menswees begroet.

Skaam moes ek erken dat ek die Here weer teleurgestel het en dat ek nie weet waar om weg te kruip nie.

Hierdie ervaring het my van soveel vreugde en oortuiging beroof, dat Christenskap ʼn las geword het wat ek nie kon saamdra nie.

Later het ek begin verstaan dat ek nie die vertrekpunt vir ons verhouding is nie. Dit is nie wat ek doen of nie doen wat die basis vorm van ons verhouding nie, maar wat God in Christus Jesus gedoen en afgehandel het.

Ek kwalifiseer nie vir die ewige lewe nie, punt. Op geen manier kan ek op eie meriete in die hemel uitkom nie. Dit is en bly die oorvloedige genade van God wat my van dag tot dag dra.

Hy kwalifiseer my vir die lewe, nie ek nie.

Dit is inderdaad in alles, Hy.

Dit beteken nie dat ek onverskillig mag leef nie. Dit is geen regverdiging vir ʼn moedswillige volharding met dit wat verkeerd is nie. Ek dink nie sulke mense lees hierdie oordenking nie.

Dit beteken wel dat ek elke dag tegemoet gaan met die wete dat die Here my werklik liefhet en dat my pad na die hemel met God se genade plavei is.

Hoeveel skuldgevoelens dra jy met jouself saam omdat jy net dalk die rolle omgeruil het?

Dit is nie jou gehoorsaamheid nie, maar God se genade.

Ek gesels graag môre verder oor hierdie saak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here U groot genade kom my elke dag tegemoet…ek het U hartlik lief Here…Amen

Sê maar net ·

Halleluja en Amen. Jesus se woorde was: Dit is volbring! Amen en dankie Jesus!! Hou my asseblief deur U genade net op die regte pad Jesus. Laat my lewe nie ‘n teleurstelling word of nutteloos wees nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.