ToekomsVenster: Hoe kan ek jou dien?

(Foto: Hannah Busing/Unsplash)

“As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ʼn genadegawe ontvang het, die ander dien.” – 1 Petrus 4:10 (AFR83)

Hoe anders sou ons wêreld nie daaruit gesien het as ons, vry van selfsug en eie belang, ander sonder agenda sou dien nie?

Ons mag redeneer dat ons nie selfsugtig is nie en inderdaad by ander mense betrokke is. Dit is beter as niks, maar wat van die soms baie subtiele agenda wat agter ons dienswerk skuil?

Dit kan wees om jou beter te laat voel oor jouself.

Dit kan wees sodat wanneer jy eendag behoefte het daaraan dat daardie mense na jou sal omsien.

Dit kan wees omdat jy dink dat dit is wat jou saak met God regmaak.

Dit kan selfs wees dat jy probeer om daardie persoon se guns te wen.

Daarmee maak ek nie alle vorme van gee verdag nie. Ek wonder net hardop saam met jou wat daaragter skuil.

Miskien wil die Bybel ons leer om te gee omdat dit die regte ding is. Om te dien omdat Jesus vir ons daarin ʼn navolgenswaardige voorbeeld gestel het.

Hoe onvoorwaardelik en onselfsugtig het Hy nie gedien nie?

“Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.” – Prediker 11:1 (AFR53)

Wat Hy in ruil vir sy liefde, belangstelling en omgee ontvang het, was inderdaad ongevraagd. Die dienaar hang aan ʼn eensame kruis, bespot, naak en verneder.

ʼn Mens mag redeneer, wat baat dit dan om te dien?

Kyk net wat het met ons Mentor en Here gebeur.

In elk geval, dit is wat ʼn mens meermale op aarde beleef. Spreekwoordelik, stank vir dank.

Dalk is daar geen groter motivering om reserweloos te dien as doodgewoon omdat die Here dit van ons vra nie. Die impak van ons omgee, liefde en vertroosting mag in hierdie lewe nie blyk nie. Die ewigheid sal daarvan getuienis lewer.

Elkeen het iets waarmee hy kan werk, die teks leer dit vir ons. Die Bybel noem dit genadegawes. Alle verdienste is daarmee nek afgesny. Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.

Wie is daar wat jy vandag moet dien? Nie sodat daardie persoon afhanklik van jou word en jou ego daardeur gedien word nie.

Soos die spreuk sê: “iemand op sy voete help”. Dis dien sodat iemand self ʼn dienaar kan word. Dis die wese van dissipelskap.

“Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” – Filippense 2:4 (AFR53)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.