ToekomsVenster: Hoe om die Here te dien

(Foto: Scott Webb/Unsplash)

“Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien.” – Psalms 34:12 (AFR83)

Ek wil vandag ʼn bietjie gesels oor kinders; my kinders, jou kinders en ons kinders. Daar is ʼn gesegde wat sê: “It takes a village to raise a child”.

Ons het inderdaad medeverantwoordelikheid vir mekaar se kinders. Uiteraard is daar grense, maar ons dra ten minste die belange van ons kinders, ons almal se kinders, op die hart.

Kinders is nie engeltjies nie. Trouens, dis sommer van jongs af dat ʼn mens agterkom dat hulle, net soos ons, sukkel om altyd die regte besluite te maak.

Kinders het nog nie die verwysingsraamwerk wat grootmense het nie. Kinders kan nie altyd die gevolge van die keuses wat hulle maak behoorlik deurdink nie, omdat hulle geestelike, emosionele en intellektuele ontwikkeling nog nie voltrek is nie.

Daar is geen verskoning vir grootmense wat soos kinders optree nie. Ons weet van beter of is veronderstel om van beter te weet. Grootmense maak ook dom foute, maar kan gelukkig teruggaan op hulle spoor en regmaak wat verkeerd geloop het.

Kinders is net kinders. Wanneer ons praat oor kinders onderskei ons tussen peuters, kleuters, tieners, adolessente, jong volwassenes en so kan ʼn mens aangaan. Namate kinders groter word, ontwikkel hulle ʼn verwysingsraamwerk aan die hand waarvan hulle wat reg en verkeerd is kan beoordeel.

Die verwagtinge wat ons dus van kinders koester, moet in lyn wees met hulle fase van ontwikkeling.

Daar is niks so verwarrend vir ʼn kind soos ʼn ouer wat een stel voorwaardes voorhou, maar nie self daarvolgens leef nie. Die tipiese “jy mag nie”-frases.

Uiteraard bring volwassenheid sekere voorregte wat nie vir kinders beskore is nie. Ek verwys egter na verkeerde optrede waaraan die ouer homself willens en wetens skuldig maak, maar dan verwag dat kinders nie dieselfde sal doen nie.

ʼn Ouer wat byvoorbeeld ongekontroleerd vloekwoorde gebruik, maar dan sy kind wil verkwalik en dissiplineer wanneer hyself ʼn vloekwoord uiter, maak dit vir die kind baie moeilik om self te besluit wat aanvaarbaar is en wat nie.

Daardie kind word groot met ʼn verwysingsraamwerk wat sê dat wanneer jy groot is, kan jy enigiets doen wat verkeerd is.

Ja, ek weet daar moet balans wees en ek wil nie spreekwoordelik die baba met die badwater uitgooi nie. Dink egter saam met my vir ʼn oomblik of twee na oor kinders en volwassenes en wat tipies van hulle verwag kan word.

Feit van die saak is dat kinders ʼn wonderlike gawe uit die hand van God is. Verbondsmatig het ouers die verantwoordelikheid om hulle kinders in die vrese van die Here groot te maak.

In terme van die belofte wat ouers gemaak het toe die kind gebring is om gedoop of toegewy (sg. ingeseën) te word, lê die verpligting op ouers om so te leef dat kinders hulle voorbeeld kan volg. Kinders moet sien dat God en sy manier van dinge doen deel van die DNS van hulle ouers se lewens is.

Ons mag nie bydra tot die verwarring wat daar by ons kinders ontstaan nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.