ToekomsVenster: Jesus, die Christus

kruis-hout-lug-wolke

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” – Matteus 16:16

Ek vra my ander helfte waaraan die letter C haar herinner. Haar antwoord kom onmiddellik, Jesus, die Christus. Ek is so bly dat ek haar as my lewensmaat het en dat sy my help om die Here se grootheid beter te verstaan.

Toe Jesus die dissipels vra wie die mense sê Hy is kom daar verskillende antwoorde. Sommige sê dat hy ʼn profeet is, ander dat Johannes in die gedaante van Jesus uit die dood opgestaan het. Nog ander sê dat Hy ʼn verskyning van Elia uit die ou Testament verteenwoordig.

Aan die einde is dit nie van belang wat ander mense sê nie. Ons luister dalk te veel na ander mense se opinies. Daarom die vraag aan die dissipels – wie sê julle is ek? Daardie vraag kom ook na elkeen van ons toe.

Petrus se antwoord is oorbekend. “U is die Christus, die Seun van die lewende God”. Daarop verklaar Jesus dat die antwoord net deur ʼn openbaring van die Heilige Gees na die dissipels gekom het. Tog het hulle nog nie ten volle verstaan met wie hulle te doen gehad het nie.

Christus is nie Jesus se van nie. Dit dui op sy mandaat om as gesalfde van God die wêreld met die Vader te versoen. Dit gebeur deur die kruisdood van Jesus. Daar sit Hy die hande van sondige mense in die hand van die liefdevolle Vader. Voortaan sou Jesus uit alle volke vir sy Vader ʼn koninkryk priesters vergader wat die wonderdade van die Vader in hierdie wêreld sou verkondig.

U is die Christus sê Petrus.

Wie sê jy is Hy?

Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ‘n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.” – Matteus 26:63

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Ons kan net uit dankbaarheid ons lewe vir HOM heeltemal opoffer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.