ToekomsVenster: Jesus het alles vir ons gegee

Argieffoto (Foto: Yannick Pulver/Unspalsh)

“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.” – Efesiërs 1:7-8

Die meeste van ons vergelyk pryse. Die lewe het buitengewoon duur geword en alhoewel ek lees dat die prys van voedsel stadiger sal styg vanjaar, voel ek dit nie aan my eie lyf nie.

Pryse van petrol, diesel en paraffien het skielik dramaties gestyg. Die som is maklik, duurder brandstof, en die hoër prys word in voedsel en ander pryse gesien.

ʼn Mens het groot empatie met soveel mense wat van die hand na die mond leef. Die miljoene mense wat aangewese is op die toelaag van R350 waaroor die regerende party so trots is, kan skaars ʼn brood vir elke dag bekostig. Ai, mag die ekonomie in die mate gestimuleer word dat werk geredelik beskikbaar word en mense realistiese lone mag ontvang.

Die grootste winskoop beteken die grootste waarde, teen die laagste koste. Ek het ʼn idee dat baie mense se hele lewensingesteldheid so is. Hoe kan ek die meeste met die minste kry.

Studente leer die minimum sodat hulle die eksamen mag slaag. Verkieslik met goeie punte ook. Die kantoorwerker steek lyf weg maar staan bakhand aan die einde van die maand ten einde ʼn aantreklike salaris te verdien. Die persoon agter die toonbank smul lustig aan haar middagmaal, terwyl die publiek moet wag.

Die grootste wins teen die laagste prys.

Ongelukkig werk dit nie so in ons verhouding met God nie. Jesus het sy alles op die altaar geplaas sodat óns die grootste wins kan behaal, die ewige lewe. Hy het sy bestaan op God-gelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie, leer Paulus ons. Lees maar weer Filippense 2. Hy het die gestalte van ʼn slaaf aangeneem en die voete van sy verraaier gewas. Jesus is in ʼn ander kategorie.

Die gelese gedeelte praat van die bloed van Jesus. Bloed getuig van die volledige prysgawe wat by Golgota geoffer is.

Die volledige offer van Jesus vra vir, ten minste in beginsel en hoe gebrekkig ook al vanweë die menslike faktor, ʼn volledige oorgawe. Jesus het alles gegee en ons probeer met die minimum regkom en wegkom. Iewers is iets verkeerd!

Daar is nie sprake van winskope wanneer dit by die Koninkryk se sake kom nie. My alles vir Sy alles, al neem dit ʼn leeftyd om daardie alles te omarm en ʼn werklikheid te maak. Lord of all or not Lord at all, word in Engels gesê.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lettie ·

Baie dankie vir goeie ware boodskap. Jesus het sy lewe ten volle vir ons aan die kruis gegee. Laat ons Hom volledig prys en dankbaar wees. Amen

Luzanne ·

Amen! Dankie Jesus vir die prys wat U ten volle betaal het. U alleen is waardig om geprys te word in alles!!!

Yvonne ·

Sulke waar woorde….Here U hoor en sien die gebrokenheid van die wereld waavoor U so duur betaal het vergewe Here om U Naamswil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.