ToekomsVenster: Jou lewe het betekenis

Argieffoto: Pixabay

“En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.” – Prediker 12:1 (AFR53)

Ek gesels in Jeffreysbaai met die senior burgers. Die gemeente daar wil ʼn energieke en betekenisvolle bediening fasiliteer wat enersyds die behoeftes van die seniors opvang maar andersins die ervaring en kennis van hierdie groep funksioneel tot voordeel van ander bestuur. Dit is die eerste geleentheid van die soort en ʼn goeie getal persone daag op.

Ons gesels oor ouderdom en ouer word.

Stellig het ons almal seker gedink ons sal jonk bly en op ʼn dag agtergekom dat ons nie die uitsondering op die reël is nie. Die natuurlike verloop van die lewe is ook op ons van toepassing. Die een fase word deur die volgende opgevolg en dit kan voel asof ons lewens betekenisloos en terloops word.

Watter sin het my lewe wanneer ek ʼn ouer persoon geword het?

Na aftrede kom die groot vakuum, ʼn soort lugleegte, die jare waarvan die Prediker vertel.

Maar moet dit so wees? Is ons aan doelloosheid uitgelewer? Uiteraard nie.

Onthou dat Christus se verlossingswerk alles nuut gemaak het. Die skadu waaronder ons verkeer is weggeneem en die lig het deurgebreek. Jou lewe het betekenis.

Daar voor my sit ʼn pragtige klomp mense. Hulle skaterlag oor die kort video wat ek vertoon waar die klompie ou mense die straat oorsteek en dan die sakeonderneming aan die anderkant van die straat toe vind. Dan die groot terugstap met kieries en rystoele en looprame en wie weet wat nog. Uiteraard kom die hele wêreld tot stilstand en effens gefrustreerde motoriste moet wag dat die ouer persone hul weer terug bevind van waar die hele tog onderneem is.

Skreeusnaaks, maar iets daarvan is tog waar.

Is daar in ons baie gejaagde, kompeterende wêreld nog tyd en plek vir ouer persone?

Ek dink aan die wyse waarop ons somtyds na ouer persone verwys en dat dit eintlik, goed bedoel, tog afbrekend is.

Ouer persone is mense, net soos ander. Ouer mense se lewens maak saak, net soos die van ander. Ouer persone maak die wêreld ʼn beter plek, net soos ander. Ouer persone is net ouer soos jong persone jonk is. As jonk wees nie ʼn diskwalifikasie is nie behoort ouer wees ook nie te wees nie.

Dan weer, deel van die probleem is dat ouer persone dink dat hulle spesiaal is. Hulle is niks meer of minder spesiaal as enigiemand anders nie. Hulle verdien respek, net soos alle ander mense. Hulle moet respek bewys, net soos alle ander persone.

Uiteraard is daar verskeie kategorieë van ouer persone. Daar is fisiese, geestelike en psigologiese uitdagings wat ouer persone sorgbehoewend maak. Dit geld egter eweseer vir ander kategorieë van mense.

Ja, die mortaliteitskoers onder ouer persone is veel hoër, toegegee, maar moenie ouer persone iewers toesluit en van hulle vergeet nie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Ou mense in hierdie land is dankbaar hulle is nie meer jonk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.