ToekomsVenster: Jou nuwe naam

(Foto: Jon Tyson/Unsplash)

“Ek verander jou naam. Jy sal nie meer Abram genoem word nie, maar jy sal as Abraham bekend staan, want jy sal die voorvader wees van baie nasies… Jou vrou Sarai sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal haar naam Sara wees.” – Genesis 17:5, 15

Van tyd tot tyd hoor ons dat name van plekke verander word en dit vir verskeie redes. Naamsverandering is ook nie vreemd in die Bybel nie. Jakob worstel met die engel en kry ’n nuwe naam. Jakob beteken bedrieër maar daar het nou ʼn verandering in sy status gekom. Hy word voortaan Israel genoem.

God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.” God het hom toe Israel genoem. – Genesis 35:10

Daniël en sy drie vriende ontvang nuwe name wat aan die kultuur in Babilonië herinner. Daniël is Beltsasar genoem, Gananja word Sadrag, Misael word Mesag en Asarja se naam word Abednego.

In Jesaja 62 ontvang Jerusalem ’n nuwe naam.

Een van die bekendste voorbeelde is Saulus wat Paulus word.

In Openbaring ontvang gelowiges ’n steentjie met ’n nuwe naam daarop geskrywe. Heidene het ʼn hangertjie met ʼn geheime naam daarop om die nek gedra. Hierdie hangertjie was soms ʼn kosbare edelsteen, maar dikwels was dit net ʼn klippie. Die naam was gewoonlik dié van een van die gode en die doel was om die draer teen boosheid te beskerm.

As dit die rede vir die wit steentjie is, beteken dit dat Christene die Naam van God of Jesus Christus op die steentjie gedra het. Hulle is dus veilig in lewe en in dood, want hulle ken die Naam van die ware God – hulle het niks meer nodig nie.

Openbaring 3:12 – Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus…U genade is wonderbaar….ek het n nuwe naam….kind van die Allerhoogste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.