ToekomsVenster: Jy is nie vir alles verantwoordelik nie

wereld-saam-dra

Foto: Ben White/Unsplash.com

Die versoeking is soms groot om die hele wêreld op jou skouers te dra. Toegegee, daar is baie dinge in ons samelewing wat die potensiaal het om ʼn mens se vreugde te steel. Dit is ook waar van ʼn mens se persoonlike lewe. Wie het ooit gesê dit gaan maklik wees?

Selfs die Psalmdigter getuig daarvan wanneer hy nadink oor die kortstondigheid van die lewe. Sewentig jaar en as jy baie sterk is tagtig en die meeste daarvan is moeite en verdriet.

Psalm 90:10 – Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.

Ai, ek dink nie die lewe is só onplesierig nie maar soos ons reeds gesê het, is daar dinge wat ʼn mens ontstig en ontsenu.

Feit is dat ʼn saak jou net sovéél kan omkrap as wat jy dit toelaat.

Geen mens kan die hele wêreld verander nie. Hoofsaak is dat jy onderskei wat dit is waarvoor die Here jou roep en daarmee besig raak en bly. Dit is ook daar waar jy betekenis en vervulling gaan beleef.

Om alles altyd te wil regsien en regmaak is soms aanduiding van grootheidswaan.

Dis die Here se wêreld hierdie en dit stem ʼn mens tot enorme dankbaarheid. Hy is en bly in beheer en sorg daarvoor. Hy neem verantwoordelikheid vir sy skepping en die koms van sy Koninkryk en laat ons in die vreugde daarvan deel.

Hoe merkwaardig groot is Hy nie?

Kom vry in die wete dat jy net kan en hoef te doen wat binne jou vermoë is.

Dit laat mý ook somtyds totaal moedeloos voel as ek die nood rondom my sien. Dit voel asof die appèl wat mense op jou maak so oorweldigend is dat jy dit nie meer kan dra of verdra nie.

Dit is natuurlik belangrik om empaties en simpatiek te wees teenoor noodlydendes. Sagte harte kom van God af. Dis die Gees wat ʼn mens beweeg tot deernis en barmhartigheid.

Maar weereens, doen net dit wat jy kan. Aan die anderkant, wat jy kán doen, moet jy doen.
Die Here verwag dit van jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.