ToekomsVenster: Jy is op jou naam geroep

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne.” − Jesaja 43:1

Ons gaan gedurende hierdie week ʼn bietjie kuier in Jesaja 43, en soos die res van die Bybel is die teks absoluut merkwaardig met talle kosbare beloftes wat in hierdie gedeelte opgesluit is.

Opmerklik dat hierdie beloftes gemaak word aan ʼn volk wat nie langer die pad van geloof loop nie. Terwyl die oordeel van die Here oor die sonde en die verkeerde uitgespreek word, is daar ook ʼn genade-verkondiging.

Dit is die God wat ons dien. ʼn God wat ons belange op die hart dra, wat die beste vir ons begeer, wat ons in sy liefde wil nader trek selfs wanneer ons die pad byster raak.

Vrees is ʼn menslike verskynsel. Vrees vir die onbekende, vrees vir die bekende, vrees dat gister jou gaan inhaal en vrees dat jy nie paraat genoeg is vir môre nie. Ten spyte daarvan dat die Bybel ons maan om nie bang te wees nie, is dit een van die sake waarmee die meeste van ons worstel.

Op bykans elke bladsy van die Bybel word ons gemaan om nie bang te wees nie. Hierdie vermaning hang nie sommer in die lug nie maar word gerugsteun deur die wete dat God, in Christus Jesus, by en met ons is.

Dat Hy ons elkeen se naam ken gaan eintlik die verstand te bowe.

Wanneer Hy ons verseker dat Hy ons op die naam ken, wil hy daardeur ook te kenne gee dat ons totale menswees soos ʼn oop boek voor Hom is. Daar is nie ʼn faset van ons lewens waarvan Hy nie weet nie.

Om dan te dink dat ons iets vir Hom kan wegsteek, is dom en onnosel. Dis veel beter om eerlik voor die Here te leef en Hom te vertrou met dit wat pla, ook die verkeerde.

Die teks verseker ons van God se verlossingskrag in ons lewe wat alle uitdagings te bowe gaan. Daar is immers geen uitdaging waarmee Hy nie kan help nie. God se vermoë om ʼn nuwe dag te laat deurbreek, te midde van die donkerste nag, is onbeperk.

Hy sien wat ons nie sien nie, weet van moontlikhede wat ons nie weet bestaan nie, geleenthede waarvan ons nie eers gedroom het nie; trouens, Hy skep sulke geleenthede en moontlikhede.

Die teks sê: “Moenie bang wees nie want Ek verlos jou”. Dit sê verder dat ons Vader ons op die naam roep en dat Hy ons as sy eiendom aangeneem het.

Ons behoort aan die Skepper van hemel en aarde. Ons name is opgeskryf in die boek van die lewe en van die Lam. Niks en niemand kan ons ooit van sy liefde skei nie.

Jy mag jouself vandag in ʼn moeilike situasie bevind.

Jy mag gereed wees om handdoek in te gooi.

Jy voel dalk dat dit te laat geword het in jou lewe.

Jesaja verkondig aan jou die God vir wie niks onmoontlik is nie.

Hoor as Hy sê: “Moenie bang wees nie, jy is myne”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

“Jy voel dalk dat dit te laat geword het in jou lewe.”
Jy druk partykeer, Jannie, so reg op my ou knoppie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.