ToekomsVenster: Kies liefde

(Foto: Ylanite/Pixabay)

“Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat’.” – Matteus 22:37-40

Die opdrag om die Here met ons hele hart lief te hê en ons naaste soos onsself val eintlik vreemd op die oor. Hoe kan jy iemand opdrag gee om lief te hê. Liefhê is emosionele aangeleentheid. Jy kan rasioneel besluit om iemand lief te hê, maar in die praktyk beleef dat dit nie werk nie.

Die Here het uiteraard die reg om opdragte te gee. As burgers van God se Koninkryk het ons ʼn Grondwet, die Bybel, net soos die Grondwet van Suid-Afrika wat in alle opsig ons vaste verwysingspunt is.

As daar ʼn meningsverskil is, word dit dikwels in die Grondwetlike hof aangehoor. Wat die Grondwet sê is wet. Die regte en verantwoordelikhede van die burgers van hierdie land word daarin beskrywe. Die Grondwet van Suid-Afrika roep ons inderdaad op om ander mense met respek te behandel, nie op hul regte inbreuk te maak nie, nie vir onsself iets op te eis wat ons ander nie gun nie. Geen groep word bo ʼn ander bevoordeel nie, alhoewel die praktyk dikwels anders daaruitsien.

Tog roep die Grondwet van Suid-Afrika ons nie op om mekaar lief te hê nie, nie soos ons liefhê verstaan nie.

Die Grondwet van die Koninkryk van God, inderdaad ʼn vreemde samelewingsverband met ʼn hemelse Koning, roep ons op om mekaar lief te hê. Die vraag is inderdaad hoe ʼn mens liefde in jouself aktiveer. Ons mag burgers wees maar ons stry steeds teen ons eie voorkeure, ons worstel met ons vrese en voorbehoude, ons word deur praktiese oorwegings in ʼn ander rigting gedwing.

By God kom ons nie weg nie. Hy gee nie toe nie. Daar is nie beweegruimte nie. Hy verskoon niemand van hierdie verantwoordelikheid nie.

Hy is en bly die Opdraggewer en ons het geen ander keuse as om te doen wat Hy sê nie. Is dit dan nie totaal onredelik nie, kan ʼn mens argumenteer.

Nee, wat wel onredelik is, is om van ʼn heilige God te verwag om ons van ons sondeskuld vry te skeld. Om ons nie aan die pen te laat ry vir die dom keuses wat ons maak nie. Om ons nie verantwoordbaar te hou vir die rebellie, opstand, verwerping van sy gesag en eiewilligheid nie. As Hy ons dan so absoluut onverdienstelik liefgehad het, hoeveel te meer behoort ons dan nie vrywillig vir die liefde te kies nie.

Ons sing: “Ek wat vergiffenis Heer ontvang het, sing dankbaar my verlossingslied”.

ʼn Ander lied klink so: “Ek aanvaar jou met die liefde van die Heer”.

Nog een: “Praat ek mense engele tale maar ek het nie liefde nie. Is my woorde hol simbole klanke sonder melodie”.

“En nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” – 1 Korintiërs 13:13

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Liefde om met ywer die 10 gebooie te ignoreer en te oortree is nie ingesluit hy hierdie liefde nie. Want dan maak jy a bespotting van die aangehaalde gedeeltes.

OW ·

“Liefde” is een van die kernwoorde van die Bybel en ook een van die mees misbruikte woorde.Jy kan nie uit liefde met ywer die 10 gebooie ignoreer en oortree nie,en sê dit is nie ingesluit by die aangehaalde gedeeltes nie.As jy die 10 gebooie oortree,oortree jy ook die genoemde twee gebooie,wat ‘n samevatting is van die hele wet en die profete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.