ToekomsVenster: Lag ’n slag vir ’n gelukkiger lewe

lag-seun-blare

Foto: Justin Young/Unsplash.com

‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” – Ps.126:1-2

Dit is een van die uitsonderlike eienskappe van ʼn mens, die vermoë om te kan lag. Omdat ons beelddraers van God self is moet ons aanvaar dat ons ook daarin God gelyk is. God lag, hoe vreemd die gedagte ook al.

Abraham lag in ongeloof as hy hoor van ʼn ryke nageslag, Sara dink nog meer grafies oor die moontlikheid en lag by haarself. Dwase se gelag (Pred.7:6) word met die geknetter van doringtakke onder ʼn pot vergelyk, die vyande van Israel lag venynig. Die Psalmdigter lag en sing as hy nadink oor God se goedheid en guns en Jeremia bely dat hy nie kan saam lag terwyl sy volk in so ʼn hartseer toestand is nie. God lag vir die geskarrel van sy vyande. So lees ons van lag in verskeie kontekste.

Daar is ook ʼn lag net omdat dit lekker is. ʼn Staaltjie wat jou vertel word, Tolla op sy beste, braaivleis stories oor jou grootste verleentheid, pure opgewondenheid wat jy nie kan keer nie. Lag vir jouself, jou maniërismes, lompheid, foute en suksesse.

Lag is terapeuties, dit verlig spanning, dis sosiaal en nooi ander binne. Lag is sosiaal en aansteeklik. Almal ken die ervaring van lekker lag met iemand wat lekker lag, selfs sonder dat jy die storie self gehoor het. Kinders se lag is soos goue oomblikke, daardie ongeïnhibeerde kraai van lekkerkry. Babatjies se gelag laat oumas en oupas snaakse dinge doen.

Een van ons kinders, toe hy deur sy ma ernstig aangespreek word dat hy lag terwyl sy hom teregwys het onskuldig verklaar: “Ek kan dit nie help nie, my mond lag vanself”.

Moenie jouself en die lewe so ernstig opneem nie. Lag soos God oor jou lag. Pure opgewondenheid oor wat jy met hierdie dag gaan doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Altyd bekend gewees vir my lag, maar dit het gaandeweg minder geword, soos wat die lewe sy skroewe vaster draai en jongmens drome en planne nie realiseer nie.
Dankie vir hierdie skrywe, Jannie! Ja, as Sy beelddraers ons het absoluut GEEN rede om morbied deur die lewe te gaan nie. “Lag en almal lag saam, huil en jy huil alleen”, of hoe gaat daai gesegde.

Kornel ·

Sjoe, so die waarheid. Ons moet weer begin lag en gesels, ek sien hoe sit die mense op hulle fone. Kyk na die berigte oor die geweld en politiek, dan los die mense baie kommentaar. Draai terug na jul Vader toe en vind weer geluk in die lewe.
Loof en prys die Here.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.