ToekomsVenster: Loshande deur die lewe

(Foto: Markus Spiske/Unsplash)

“Nee, my hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.” – Psalms 121:2 (NLV)

Ons kleinseun leer fietsry. Die amper te groot fiets, grasgroen en trots, staan gereed om bemeester te word. Net maar dat die een wat die fiets moet aandurf nie die vaardigheid het om dit te geniet nie.

Die een probeerslag na die ander eindig bykans rampspoedig. Oupa staan nader om seker te maak dat die val na die linkerkant en dan na die regterkant nie te veel skade veroorsaak nie. Die oplossing, twee kantwieletjies wat by die naaste Chinese winkel aangeskaf word. Die wieletjies gaan duidelik nie lank hou nie, maar dis in elk geval net tydelik.

Nou word die fiets met mening gery. Seun waag dit om spoed op te tel en hier en daar ʼn walletjie raak te ry sonder om af te val.

Oupa vertel dat jy op ʼn dag sommer self regkom. Die wieletjies is net tydelik.

Ook nie lank nie of sy pa stuur ʼn video waar kleinseun soos wafferse fietsryer, nou op sy eie fiets, sonder kantwieletjies bekwaam oor die weg kom.

Gister nog gesukkel, vandag vaardig. ʼn Bietjie hulp en oefen, môre is jy vaardig.

Om die lewe suksesvol aan te durf het ons ook wieletjies nodig van tyd tot tyd.

Sommige mense raak nooit daarvan ontslae nie. Hulle is altyd en altoos afhanklik van die ondersteuning. Hulle word nooit groot nie – Paulus se woorde – so volwasse soos Christus. Hulle staan gereed om te verwyt omdat ander nie toetree en bly help nie. Hulle is die ewige hulpelose geestelike hoekstaanders met bordjies wat lees: “help asb.”.

Dan is daar die wat so gewoond geraak het om te funksioneer sonder hulp dat hulle bykans arrogant raak. Ek het niemand se hulp nodig nie. Ek kan self regkom. Ek is onafhanklik en trots daarop. Ek het niemand en niks nodig nie, ook nie vir God nie.

Dan is daar die wat nie vergeet hoe dit voel om af te val nie, hoe dit voel om op wieletjies aangewese te wees nie, en so dankbaar is dat hulle met hulp, ook van Bo, die vaardigheid kon bemeester om hierdie uitdaging in die oë te kyk. Hulle is terdeë bewus daarvan dat daar nuwe uitdagings sal kom, dat wieletjies weer en weer nodig sal wees totdat hulle kan regkom.

Hulle leef dankbaar, verras deur God se genade en die merkwaardige vermoë wat Hy aan mense gee wat Hom vertrou.

Is jy steeds op wieletjies? Kom jy reg sonder om hulp te vra, of is dit ʼn geval van: “Dankie Here, ek kon die uitdaging hanteer. Dankie dat U daar sal wees vir die volgende uitdaging”?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marietjie ·

Here so baie dankie vir U wieletjie-hande en ook soms iemand wat U vir my stuur. Dis wanneer ek groei, weer U lewensles ontdek van vergifnis en opstaan. Kyk die wêreld vierkantig in die oë, want jy is ‘n Koningskind wat met oorwinning leef.
Seën elke wieletjie-mens wat U gebruik. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.