ToekomsVenster: Moenie dat die lewe jou onderkry

(Foto: Stephan Hauman)

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” – Romeine 8:37-39 (AFR83)

Daar word dikwels na Suid-Afrikaners as veerkragtige mense verwys. Dit beteken Suid-Afrikaners het die vermoë om terug te bons, ongeag hoe groot die uitdagings en teleurstellings mag wees.

Veerkragtigheid behoort veral ʼn eienskap van Christene te wees.

Christene beleef soos enige ander mense trauma, hartseer en teleurstellings. Dit word niemand gespaar nie.

Romeine 8 is ʼn nugter kykie na die lewe. Mense wat ʼn lewe van voorspoed en geluk onder alle omstandighede vir Christene voorhou, net omdat hulle Christene is, lees die Bybel nie baie mooi nie. Dit was nie die ervaring van bekendes in die Ou Testament of bekendes in die Nuwe Testament nie. Lyding terwille van die Here se saak was die norm. Ons word juis geroep om met Christus in sy verwerping te identifiseer, buite die laer waar Hy aan ʼn kruishout hang.

Terug egter by ons aanvangsopmerking. Juis omdat Jesus die lydingspad met onderskeiding geloop het, nie halfpad omgedraai het nie, nie toegegee het aan die versoeking in die woestyn nie, die verwerping van mense verduur het, kan ons terug bons van teleurstelling.

Die oop graf is Jesus se terug bons-daad. Die dood kon Hom nie hou nie. Hy is deur die magsdaad van God uit die dood opgewek. Sy opstanding is die waarborg van aanmoediging wat ons nodig het om ons eie teleurstellings te kan oorkom.

Die graf is ʼn metafoor vir die doodsheid en swaarkry van hierdie bedeling. Die oop graf is ʼn teken van oorwinning. Die oop graf spreek die laaste woord, nie die kruis nie. Sonder die oop graf was die kruishout ʼn merkwaardige humanitêre daad. Bewonderenswaardig, maar nie in staat om ons te verlos nie.

Dit mag wees dat jy jouself tans op ʼn slegte plek bevind. Ek is jammer daaroor en vertrou dat dinge aanstons sal verander.

Moenie dat daardie omstandighede jou definieer nie. Jy is nie ʼn slagoffer nie, maar ʼn oorwinnaar. Jy deel in die oorwinning waarvan die oop graf spreek.

Bons terug met die veerkragtigheid waaraan Christene se lewens gekenmerk word. Bons terug, vandag nog.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.