ToekomsVenster: ‘Moenie te veel praat oor môre nie’

Argieffoto. (Foto: Dapo Oni/Unsplash)

“Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie.” – Spreuke 27:1 (NLV)

Dit is nou een interessante aspek van die Bybel, dit druk telkemale op die sensitiewe plekkies in ons lewens.

Kyk maar na vandag se Skrifgedeelte wat maan dat ons nie te veel moet praat oor môre nie.

Dit is gister en môre wat die lewe so kompliseer.

Gister se mislukkings en môre se onsekerheid.

Terwyl ons met vandag besig is, beur ons met alles wat ons het vorentoe. Die lewe het ʼn manier om ons mee te sleur. Daar is goed wat aandag verdien en ons moet daarmee besig wees.

Dis ook ʼn stuk genade dat die lewe ons tot aksie oproep.

Ja, somtyds is dit nodig om ʼn dag of wat af te neem en net los te kom van die geforseerde momentum waaraan ons onderwerp word. Dit is nie lank nie en die e-posse hoop op, die telefoonoproepe moet beantwoord word en die huishouding moet vlot.

Gister en môre is ons twee uitdagings.

Om met gister klaar te maak is ʼn stuk genade. Vind troos daarin dat alle mense op ʼn leerkurwe is. Niemand het en niemand sal in hierdie lewe arriveer nie.

Ons beleef hoogtes en laagtes, dis die sout en die peper, die soet en die suur van die lewe.

Dit is genade as ʼn mens empaties met jouself kan leer wat jy moet leer, afsien van wat die lewe onnodig kompliseer en die volgende tree gee.

Môre, o die liewe môre. Is ek in staat om die môres van my lewe te hanteer?

Dalk hou dit ons nederig as ons moet erken dat juis die onvoorspelbaarheid en die onbekendheid van môre ons op ons knieë hou.

Hy het die toekoms in sy Hande, soos die kinders sing, die hele wêreld in sy Hande.

Hy staan gereed om my in môre te verwelkom, beloof dat Hy reeds die pad voorberei het, dat Hy net sal toelaat wat tot my vorming sal bydra, dat sy genade genoeg is, sy beloftes my sal dra en sy Woord my sal leer.

Dankie Heilige Gees, U is alreeds daar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.