ToekomsVenster: Môre sal die son weer skyn

(Foto: Dapo Oni/Unsplash)

“Waarlik, sy toorn duur net ʼn oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” – Psalms 30:6 (AFR83)

Die soet en die suur, die goeie en die slegte, die lag en die traan is alles ineen geweef in ons bestaan op aarde. Niemand kan ontken dat die lewe somtyds uitdagend is nie. Dit verskil van mens tot mens.

Ons kan ons swaarkry nie met mekaar vergelyk nie. As ons ander mense se stories hoor klink ons storie sommer oppervlakkig. My ervaring maak egter my seer en swaar nie minder eg en seer nie.

Die vraag na God se betrokkenheid in ons hartseer en pyn is baie aktueel. Die wêreld is erg deurmekaar en die aandnuus is meermale ʼn ontstellende ervaring. Die spanning tussen dit wat is en dit wat belowe is, dit was is en dit wat moet wees, dit wat is en dit wat nog nie is nie, is somtyds onhoubaar.

Sommige vind dit moeiliker om met hierdie spanning saam te leef. Hulle stryd is somtyds diep emosioneel en selfs pynlik. Ander hanteer dit makliker of oënskynlik sommer so in die verbygaan.

Ons verskil van mekaar, ook wat ons hantering van teleurstelling betref.

Die teks egter bring ʼn ander perspektief en waarheid na die oppervlak.

Pyn, teleurstelling, angs en verdriet hou nie vir altyd nie. Somtyds is ons ervaring daarvan so abrup soos van die een dag na die volgende. Gister het ek nog geworstel met intense lewensvrae. Gister het ek gewonder of dit alles die moeite werd is. Gister moes ek veg teen die stem wat my wou oortuig dat ek liefs ʼn streep in die sand moet trek.

Vanoggend lyk alles anders. Ek het perspektief gekry of selfs net ʼn goeie nag se rus geniet.

Moenie toelaat dat swaarkry die laaste woord spreek in jou lewe nie. Verwag die nuwe môre, wat telkens kragtens die belofte van God aanbreek en deurbreek.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.